Ivor van Schoor, president van Gardens.Foto: Sammy Pietersen


Die rugbyklub Young Gardens se 75ste verjaardagvieringe gaan voort met die klub se sewestoernooi wat Donderdag 6 April in die Faurestraat-stadion in die Paarl plaasvind.

Vier skolespanne en agt senior klubs gaan aan die toernooi deelneem.

Die gasheer, Young Gardens, sowel as Young Peoples, Paarl Rangers, Pêrel United, Young Standards, Riverstones, Violets en Albions gaan sake om die bekers en vet prysgeld uitspook.

Die toernooi beloof om lekker opwindende hardlooprugby op te lewer en Ivor van Schoor, Gardens se president, sê dis die perfekte geleentheid om die Paasnaweek mee te begin.

“Ons wil ons feesjaar een maak om te onthou en ons Back to our Roots-musiekfees op 11 Maart by die Amfiteater op Paarlberg het dinge op ’n hoogtepunt laat begin. Nou nooi ons rugbyliefhebbers om saam met ons ’n aksiebelaaide sewestoernooi te kom geniet.”

Van Schoor het bygevoeg die toernooi dien ook as huldeblyk aan Alwyn Lewis, ’n voormalige speler en administrateur van die klub, wat onlangs oorlede is. “Alwyn is ’n lergendariese Gardens-lid en was tot voor sy ontydige afsterwe nog baie by ons Old Boys betrokke. Ons wil sy weduwee, Natalie, en die kinders bedank vir hul ruim borgskap, wat dit vir ons moontlik maak om hierdie toernooi aan te bied. Alwyn was ’n groot rugbyman, en hierdie is ons manier om dankie te sê aan hom vir sy onbaatsugtige diens aan die klub oor die jare.”

Die hekke open om 16:30, en die skolewedstryde skop om 17:15 af.

Die senior manne takel mekaar van 18:30 af.

Toegangsgeld beloop R20 vir volwassenes, R20 per voertuig en R10 vir kinders onder 12.. Die klub se Vryheidsdag-ontbyt vind op 27 April in die Hugenote-gemeenskapsaal plaas en kaartjies is by Van Schoor te koop. Belangstellendes kan hom by 082 432 2966 bel vir nog inligting hieroor en die sewestoernooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article