Die Kaapse Wynland se top-matriekpresteerders vir 2023, saam met Milcah Visser, die matriekleerder wat die tweede hoogste uitslae in die Wes-Kaap gehad het (vierde van links in die middelste ry). Voor sit Noel Petersen (direkteur: Wes-Kaapse onderwysdepartement), Henry Prins (munisipale bestuurder, KWDM), Elna von Schlicht (burgemeester), Clara Meyer (portefeuljehouer: rampbestuur) en Pietie Williams (uitvoerende direkteur: gemeenskapsontwikkeling en beplanningsdienste).Foto:


Die burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het vandeesweek die Kaapse Wynlande se top-matrikulante van 2023 vir hul akademiese prestasies vereer.

“Ons kom vandag hier bymekaar om nie net akademiese prestasies te vier nie, maar ook erkenning te gee aan die uitsonderlike reis wat elkeen van julle onderneem het. As die toppresteerders van jul onderskeie skole het julle nie net uitstaande intelligensie getoon nie, maar ook ’n unieke stel eienskappe wat ongetwyfeld vorm aan jul toekoms sal gee,” het die burgemeester, Elna von Schlicht, by die toppresteerders-prysuitdeling, wat Maandag (5 Februarie) by Rhenish Girls High School in Stellenbosch gehou is, gesê.

“Ons toppresteerders-toekenningseremonie gee erkenning aan die merkwaardige prestasies van die hoogs presterende matrikulante by alle hoërskole in die distrik. Op hierdie aand vier ons hulle saam met hul ouers, onderwysers en skoolhoofde,” het die burgemeester gesê.

Benewens die ontvangs van hul sertifikate en geskenkpakkies, was die klas van 2023 hierdie jaar die eerste ontvangers van die burgemeester se studiehulpfonds. Elke ontvanger het ’n noemenswaardige studiehulptoelae van R20 000 ontvang, wat direk na hul onderskeie leerinstellings of kursusse oorgedra sal word. Die burgemeester se studiehulpfonds het ten doel om ’n baken van hoop te bied en die pad na hoër onderwys vir uitsonderlike presteerders te verlig en die opvoedkundige landskap van die Kaapse Wynland-distrik te bevorder.

Die drie beste gr.12-leerders van 2023 in die Kaapse Wynland-distrik is: Eerste plek – Melissa Müller van Rhenish Girls High School (ook die land en provinsie se top-leerder); en tweede plek word gedeel deur Milcah Visser van die Hoër Meisieskool Paarl en Lilly Hobbs van Rhenish Girls High School.

Twee spesiale burgemeester-toekennings is as deel van die seremonie oorhandig.

Die spesiale opvoeder-erkenning behoort aan Clemence Thomas, vakhoof en hoofonderwyser vir natuurwetenskappe en tegnologie by die Laerskool Touwsrivier.

Leeroy Chakanyuka, die toppresteerder van die Hoërskool Franschhoek, het die spesiale toekenning vir veerkragtigste leerder ontvang.

Leeroy het uitdagings met taalhindernisse en aanpassing ervaar toe hy in sy vormingsjare tussen Suid-Afrika en Zimbabwe verhuis het.

Hy het teen gr. 4 Engels bemeester en akademies uitgeblink, aangedryf deur sy begeerte vir ’n beter toekoms.

Hy het ten spyte van terugslae vier vakonderskeidings en 79% in die NSS-eksamen behaal – ’n bewys van sy vasberadenheid en veerkragtigheid.

Hierdie toekenning is hoogs verdienstelik vir buitengewone prestasie, ongeag uitdagende omstandighede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article