Ná ’n stadige aanloop is parstyd goed op dreef met meer as die helfte van Suid-Afrika se 2022-wyndruifoes wat reeds by kelders ingeneem is. Die oes word steeds kleiner as in 2021 geskat, maar groter as die vyfjaargemiddeld.
“Hoewel parstyd later as gewoonlik begin het, het al tien die produserende streke in hierdie stadium reeds ’n noemenswaardige hoeveelheid druiwe gepars en gee dit ’n goeie aanduiding van volumes wat tans by kelders gelewer word,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens, wat die vierde oesskatting saam met Sawis (SA Wynbedryfinligting en -Stelsels) uitgereik het. “Die druifgehalte lyk ook in hierdie stadium baie goed, wat belofte inhou vir ’n uitstekende 2022-oesjaar.”
“Volgens die WineMS-inligtingsbestuursagteware is nagenoeg 65% van die wyndruifoes, wat gemiddeld jaarliks deur die stelsel gaan, reeds ingeneem – sowat ’n week later as gewoonlik,” sê Christo Spies, WineMS se bestuurshoof. Die kusgebiede is naby aan klaar gepars, terwyl die binnelandse streke meestal oor die halfpadmerk is.
Die 2022-seisoen is gekenmerk deur koeler weerstoestande vanaf die winter tot en met middel Desember, wat daartoe gelei het dat bot, blom, deurslaan en rypwording in die wingerde later as gewoonlik plaasgevind het. Warm tydperke in Desember en Januarie het die rypwordingstempo versnel, maar die gewone parsprogram vir die meeste kultivars is steeds sowat sewe tot tien dae vertraag.
Die algehele oes word as kleiner beraam, hoewel die oesskatting per streek na gelang van die onderskeie streke se geografiese diversiteit verskil. “Die kleiner oes kan hoofsaaklik toegeskryf word aan reënbuie in die Noord-Kaap en Klein Karoo, wat verliese weens swamsiektes en vrot tot gevolg gehad het; sonbrandskade weens hittegolwe in die Swartland, Paarl en Robertson; asook wingerd-uitkappings in sekere streke weens finansiële oorwegings,” sê Conrad.
Hierteenoor dra gunstige groeitoestande, doeltreffende swamsiektebeheer en voldoende besproeiingswater tot dusver by tot beter oeste in Stellenbosch en die Kaapse suidkus.
Die finale oesskatting deur wingerdkundiges en produsentekelders word in Mei 2022 saam met die amptelike SA Wynoesverslag uitgereik.



