SA wynboere is op hete kole weens hoër Britse aksyns.
Plaaslike wynboere wat na Brittanje uitvoer, gaan dalk wins inboet nadat aangekondig is aksyns op drank in dié land gaan skerp verhoog word.
Volgens Wines of South Africa (Wosa) heers groot onsekerheid nog oor wat die omvang daarvan sal wees.
Brittanje is Suid-Afrika se grootste uitvoermark vir wyn. Sowat 20% van alle wyn wat uitgevoer word, beland in Engelse markte.
Die Britse regering het verlede week in die land se begrotingsrede die “sondebelasting” op drank verhoog – die eerste keer sedert 2020. Die nuwe aksyns word op 1 Augustus van krag.
“Die belastingverhoging sal beteken dat belasting op ’n bottel wyn met 44p (sowat R10 volgens gister 12:00 se wisselkoers) sal styg.
“Vir gefortifiseerde wyne sal die belastingverhogings selfs groter wees, met port wat met £1,30 per bottel (net minder as R30) sal styg.
“Die regering se besluit om wyn- en spiritusondernemings en verbruikers van 1 Augustus af te straf met ’n belastingverhoging tot 10% vir spiritualieë en tot 20% vir wyn is verbysterend.
“Dit is die grootste verhoging in wynbelasting sedert 1975,” lui ’n verklaring van die Britse Wyn- en Spiritushandelsvereniging.
Maryna Calow, ’n kommunikasiebestuurder van Wosa, sê die verhoging kan vir Suid-Afrikaanse produsente op drie maniere uitspeel.
Sy meen dit kan wees dat die Britse regering self die verhoging namens uitvoerders sal absorbeer. “Dit is die onwaarskynlikste uitkoms.”
Die ander moontlikheid is dat Britse verbruikers die prysverhoging moet absorbeer. “Ons hoop verbruikers sal in dié geval steeds dieselfde wyne koop en nie net ’n goedkoper wyn nie.”
Die laaste moontlikheid is dat Suid-Afrikaanse produsente die verhoging moet absorbeer.
“Dit sal beteken dat produsente waarskynlik hul wyn goedkoper sal moet maak en moontlik ’n verlies sal moet ly, net om Britse beursies te akkommodeer,” sê Calow.
Sy sê sy hoop dit sal ’n kombinasie van die drie moontlikhede wees.
Calow verseker dit gaan nie ’n invloed op Suid-Afrikaanse verbruikers hê nie.



