Die borge en ontvangers by die Wynoesherdenkingsgeleentheid is voor van links: Ilse Ruthford, ontvanger van die toekenning vir die bevordering van inklusiwiteit

Die jaarlikse Wynoesherdenkings­geleentheid, wat Donderdagaand 1 Februarie plaasgevind het, herdenk die geboorte van Suid-Afrikaanse wyn, vra die seën op die nuwe oes en vereer rolspelers vir hul uitnemende bydraes tot die wynbedryf – alles vanjaar op die 365ste herdenking van die eerste wynoes in die land.

Die volgende toekennings is oorhandig:

1659-toekenning vir visioenêre leierskap: Tim Hutchinson

Dié gesogte toekenning gaan vanjaar aan Tim Hutchinson, hoof van een van die grootste onafhanklike wynmaatskappye in Suid-Afrika. Sy waagmoedige inisiatiewe het Suid-Afrikaanse wyn op ’n blywende koers gestuur.

Wynbevordering: Cathy Marston

Cathy Marston is die 2024-ontvanger in hierdie afdeling vir haar bydraes tot die beeld van Suid-Afrikaanse wyn en die wynbedryf as ’n geheel.

Marston is ’n hoog aangeskrewe wynproewer, beoordelaar en joernalis asook ’n wynopvoeder met globale invloed. Sy is die stigter van die International Wine Education Centre (IWEC) in Kaapstad, wat die Wine & Spirit Education Trust (WSET) se kwalifikasies aanbied.

Bevordering van inklusiwiteit: Ilse Ruthford

Die 2024-ontvanger in hierdie afdeling is Ilse Ruthford, besturende direkteur van Compagniesdrift – ’n maatskappy met 100% swart eienaarskap.

Ruthford is ’n mentor en leier vir talle jongmense, in wie sy ’n sterk toekoms­hoop skep. Sy is ook raadslid van die Stellenbosch-wynroete, waar sy sosiaal-ekonomiese ontwikkeling lei.

Wingerd- en wynbou: Dawid Saayman

Die 2024-ontvanger is Dawid Saayman, ’n grondwetenskaplike wat in wingerd- en wynbou spesialiseer. Hierdie gesogte toekenning vereer individue vir hul vernuwende idees, tegnologie en praktyke in die wynbedryf. Saayman is bekend vir die definiëring van die konsep van terroir in Suid-Afrika deur die identifisering en begrip van geologie, grondsoorte en klimaat in die Suid-Afrikaanse Wyn van Oorsprong-skema.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article