Die Paarlse akteur Celeste Loots is nou in die reeks Wyfie op Showmax te sien.Foto:


“Dis ’n reeks wat nie skaam is nie,” sê Celeste Loots oor Showmax se universiteitsdrama, Wyfie.

Die Suid-Afrikaanse aktrise Celeste Loots het in September 2023 ’n gesogte plek op die IMDbPro Top 100 StarMeter gehaal danksy haar deurbraakrol as Kaya in One Piece. Sy het dié vertolking met ’n meesleurende draai in Trompoppie opgevolg as Zanne, die eerste trompoppie om in die stof te byt in dié treffende Showmax Original. Nou is sy terug op Showmax met haar grootste rol nog: dié van Amanda in die universiteitsdrama Wyfie.

Amanda Tremeer-Young het met dié opkomende ster gesels om meer uit te vind.

Hoekom wou jy ’n akteur word?

Ek dink toneelspel het nog altyd lokkrag vir my gehad, maar ek het nie dadelik ná skool besluit ek wil toneel speel nie; ek het eers by die Universiteit van Kaapstad begin swot met die plan om in die regte te werk. Ek het toe drama as ’n keusevak gehad en daardeur het ek die ander drama-mense ontmoet. Ek het net ’n gevoel in my beendere gehad dat ek hierdie ding moes doen. Ek het toe ’n oudisie gedoen vir ’n plek in die teater- en uitvoerendekunste-graadprogram sonder om vir enigiemand te sê. My familie het ook nie daarvan geweet nie. Eers toe ek aanvaar is, toe sê ek: ‘Verrassing julle; nuwe plan!’

Waaroor gaan Wyfie?

Wyfie is ’n reeks oor vier universiteitsmeisies wat die lewe saam probeer uitpluis.

Hoe vergelyk jou eie universiteitservaring met dit wat in Wyfie uitgebeeld word?

Ek het aan die Universiteit van Kaapstad studeer, maar ek het nie in ’n koshuis gebly nie, so daai deel van hoe hulle vroegoggend wakker gemaak word en dan moet jy wat ook al doen – ek het nie daai deel van universiteit self beleef nie, maar ek het al so baie stories gehoor van my vriende wat in die koshuis was, en selfs ook by my ouers, wat baie soortgelyk is aan die stories in Wyfie.

Ek voel nogal die Wyfie-wêreld trek na die regte wêreld. Ek dink die gevoel van Wyfie som so mooi op hoe dit voel om 19 jaar oud te wees – daai eerste oomblik van vryheid in die wêreld terwyl daar ook steeds al hierdie goed is wat in jou persoonlike lewe gebeur. Daar word van jou verwag om hierdie volwassene te wees, maar jy weet nie hoe om dit te wees nie… So, dan gaan drink jy maar net!

Vertel ons meer oor jou karakter.

Amanda is nogal morsig. Sy is baie eiesinnig en verskriklik passievol. Sy het ’n groot passie vir die lewe en sy lewe in die oomblik.

Sy is baie impulsief en ’n baie groot ekstrovert wat stories soek – sy leef om stories vir haar ervarings te hê.

Sy het baie goeie bedoelings, maar dit is daai tipiese ding wat gebeur as jy 19 jaar oud is: jy is nogal selfsugtig, maar jy besef dit nog nie heeltemal nie; en jy maak per ongeluk mense seer, hoewel dit nie jou bedoeling is nie.

Is jy soortgelyk aan jou karakter?

Ek dink ek het definitief ’n paar goed in gemeen met haar. Ek is ook nogal hardkoppig as ek lus is.

Ek kan ook aanklank vind by hoe beskermend sy is oor die mense vir wie sy omgee – en as sy omgee, gee sy baie om.

Ek het aanvanklik vir ’n ander karakter ’n oudisie gedoen, maar toe hulle my terugroep om nog ’n oudisie te doen, was dit vir daardie karakter en vir Amanda. En dit was die vreemdste ding, want toe ek uit daai kamer loop, kon ek haar (Amanda) in my lyf voel. Amanda het so ín my gesit. Dit was ’n baie besonderse gevoel om te beleef.

Vertel ons meer oor jou verhouding met jou medespelers.

Ek en Mienke (Ehlers), wat Mia speel, was saam op laerskool in die Paarl; ons was in dieselfde klas en ken mekaar van toe ons so ses jaar oud was. Ek het na ’n ander hoërskool gegaan, so ons het ’n bietjie van mekaar weggedryf. Dit is nogal spesiaal om terug te kom na iemand wat jy so lank gelede geken het.

Met Beáta (Bena Green) en Kristen (Raath) het dit so vinnig soos ’n familie begin voel. Dit klink so cheesy, maar ons het regtig so ’n maklike band en ’n maklike chemie tussen al vier van ons gehad, wat ek dink tot in die storie, en tot op die skerm, verplaas word. Ons het een dag in ’n week af en dan sal ons steeds saam vir middagete gaan of iets.

Hoekom moet mense Wyfie kyk?

Mense moet Wyfie kyk, want dit is ’n reeks wat nie skaam is nie. Dit is ’n reeks wat na karakters kyk waarby ’n mens verskriklik maklik kan aanklank vind. Dit voel asof die reeks ín die lewe inklim en van binne af wys hoe alles voel en hoe alles lyk, in plaas daarvan om van buite af in te kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article