Wellington se eie Pacific Brass Band wandel nie net plaaslik met hul skeppende klanke nie, maar dra hul instrumente en melodieë deur die strate van selfs Europa en Zambië.
Dié orkes is pas terug van hul oorsese reis na Toulouse, Frankryk, waar hulle passievolle optredes by die Samba Résille in dié stad, gedurende Junie en Julie, gelewer het.
Die groep se skakelbeampte, Dillon Williams, vertel Paarl Post van al dié nuutste avonture, asook die storie van Pacific se oorsprong.
“Die orkes het by die Jean Jaures saam met Samba Résille en Barefeet Theatre opgetree.
“Hulle was ook deel van Samba Résille se 30ste verjaardagvieringe en het die strate van Frankryk ingevaar waar hulle voor ’n groot skare, opgetree het,” vertel Williams.
Die Samba Résille is ’n kultuurliggaam wat musikale talent van oor die wêreld heen bymekaar bring en bevorder deur middel van samba-ritmes.
Die orkes was in hul noppies om Parys te verken, gevolg deur dae in Brussels asook Amsterdam. Daar het hulle saam met Metx by ’n verkiesing opgetree, waar feestelike pogings aangewend is om Brussels die hoofstad van musiek teen die jaar 2030 te maak.
Die besonderse geleentheid volg nadat Pacific deur Marlene le Roux en Kunstekaap genader is om hul orkeste in ’n internasionale uitruil van musiek en kultuur gesamentlik te verteenwoordig.
“In Maart vanjaar was die orkes vir 10 dae na Zambië, waar ons as drie groepe (Barefeet Theatre van Zambië, en Samba Résille van Frankryk) bymekaar gekom het en meer van mekaar se agtergrond, kultuur en musiek geleer het.”
Hulle het deur Lusaka, hoofstad van Zambië, getoer en voor verskillende organisasies binne en rondom die stad gespeel.
Williams brei uit oor die Pacific Brass Band se herkoms wat in 2018 deur ’n groep vriende in Wellington gestig is. Die groep vriende het jare lank hul melodieuse agtergrond in ’n klopse-orkes gevestig.
“Altesaam 18 van die lede het uit die klopse weggebreek en die Pacific Brass Band gestig. Dis pure liefde vir musiek wat hierdie lede só geheg aan mekaar gehou het.”
Hy meen dat elkeen van dié lede steeds deel is van die Wellingtonse Klopse wat ’n gevestigde tradisie in die dorp is, nes die Kaapse Klopse.
“Daar is tans sowat 30 aktiewe lede, waarvan die orkes tydens die klopse-seisoen tot en met 75 lede groei. Die orkes bestaan grotendeels uit mans en jong seuns, met ’n paar vroulike musikante.
“Die ouderdomme strek van so jonk as 11-jariges tot 45 jaar.”
Hul musikale filosofie kan as “sounds of life” omskryf word.
“Pacific is ’n baie veelsydige groep musikante wat verskillende genres verken en bespeel. Hulle handhaaf unieke klanke en style, wat ek as ware crowd pleasers beskryf.
“Pacific speel alte graag net dít wat die gehoor wil hoor,” sê hy.
Dit behels style soos Jazz, pop, RnB en African music.
Pacific is ’n koperblaasorkes wat die klanke van trompette, trombone, saksofone, sousafone en tubas saamsmelt. Vir klopsevertonings maak hulle ook gebruik van marching snare drums, bastromme, tenoortromme en simbale.
“Die meeste van ons aktiewe lede besit hul eie instrumente, maar wanneer dit klopse-seisoen is, huur ons instrumente om almal te akkommodeer.”
Williams verduidelik dat, hoewel Pacific nie juis ’n klopse-orkes is nie, die klopse steeds die weg na hul musikale belange gebaan het.
“Om in die klopse te speel, het vir talle lede die geleentheid gebied om instrumente te bespeel en musiek te lees. Om die rhythm van die beat te voel, en deel van ’n groep te wees.”
Hy meen dat die Pacific Brass Band eerder ’n byproduk is wat uit die klopse gebore is.
“Ons het besluit om nie net ’n klopse-orkes te wees nie. Daar is net soveel liefde vir musiek in sy verskeidenheid, waar klopse nie sommer die ruimte bied om dit heeltemal uit te leef nie,” maan Williams.
Dié soort belangstelling word ook die hooffokus om plaaslike jeug te bemagtig.
“Ons probeer altyd om jonger kinders te betrek en hulle te leer hoe om instrumente te bespeel. Só is dit ook ons manier om misdaad, geweld en verkeerde dinge waarmee jongelinge besig is, in ons area te bekamp.”
Plaaslike gehore sou die Pacific Brass Band al op vorige geleenthede by optogte, begrafnisse, skole-derby’s en klubrugbywedstryde in en om die vallei gesien het.
“In 2019 het die orkes by Paarl Boys High se Ochestra Festival, en ook by die verwelkoming van eerstejaarstudente by die Universiteit Stellenbosch, gespeel.
“Maar kom September, gaan die groepe van Zambië en Frankryk na Suid-Afrika kom.
“Dan gaan ons almal saam hope plekke besoek en vir mense wys hoe musiek ons bymekaar kan bring.”
Pacific strewe daarna om dit wat hulle oor die wêreld heen geleer het na die jeugdiges van hul gemeenskap, oor te dra.
“Daar is altyd ruimte vir enige persoon, jonk of oud, om deel te wees van die orkes. Ons missie is om jongmense in die gemeenskap op te hef.
“Ons glo musiek het baie van ons lede gered, en daarvan kom die geloof dat daar nog baie te redde is.”
Vir meer inligting oor Pacific Brass Band, bel Williams by 076 774 5768.
- The Pacific Brass Band, founded in Wellington, recently returned form a European tour. They were invited to join the Artscape Theatre group to attend the famous Samba Résille in Toulouse, France, from June to July. They are a local group that welcomes young ones to join in their love for music.





