Damian Engledoe van Roses in volle vaart in hul Top-12-kragmeting teen Robertson.Foto: Roses RFK

Credit: SYSTEM

’n Laagvat op Marco James (flank) deur die Roses-plaasvervanger-losvoorspeler Jason Fortuin was Saterdag 29 Oktober op Pelikaanpark in Wellington nodig om die aanslag van Rangers Robertson in ’n Boland Top-12-wedstryd af te weer.

Roses United het helaas 19-13 geseëvier nadat die span van Robertson tot in die heel laaste minute uiters mededingend was.

Die spanne kon nie in die eerste helfte behoorlik aan die gang kom nie en dit het by tye soos ’n voorseisoense losmaker gelyk. Roses het vir die grootste deel van die eerste helfte aanval op aanval van stapel gestuur, maar die spelers se dissipline en selfsugtigheid het verhoed dat meer punte aangeteken is.

Dit het die span van Wellington 14 minute geneem om die eerste punte aan te teken – ná ’n goeie rolmaalbeweging wat Kelvin Fikster afgerond het. Damian Engledoe het Roses se tweede drie in die 37ste minuut aangeteken, maar die losskakel, Dawie Conradie, het sy skopskoene in Robertson vergeet. Roses het rustyd 12-0 voorgeloop.

Die Boland-skeidsregter Gabriël Mars het vyf geelkaarte (drie vir Roses en twee vir Rangers) uitgedeel, en ’n paar vreemde beslissings het die wenkbroue laat lig. Rangers het die tweede helfte oorheers met Damian May (haker) en Marco James wat Roses kopsere besorg het. Die Wellingtonners het egter groot karakter op verdediging gewys, en Burton Booysen het ’n derde drie gedruk. Harde werk lê vir Roses se afrigter, Brendon April, voor vir Saterdag (5 November) se kragmeting op Pelikaanpark teen die onoorwonne Wesbank-rugbykub van Malmesbury.

Puntemakers:

Roses 19: Drieë: Kelvin Fikster, Damian Engledoe, Burton Booysen. Doelskoppe: Damian, Johnwin Lewis.

Rangers: 13: Drieë: Jean Jacques Jacobs. Doelskoppe; Dawie Conradie (1), Strafskoppe: Conradie (2).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article