Die polisie het die afgelope naweek (12 Januarie) ’n sterk teenwoordigheid in Wellington gehandhaaf na afloop van ’n bloedige skietery op 23 Desember. Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die polisie in Wellington sê hulle sal voortaan multidissiplinêre optredes in brandpunte uitvoer na aanleiding van wat inwoners bestempel as ’n “toename in gewelddadige misdaad”, wat skietery en gevegte insluit.

Paarl Post het verlede week berig die polisie in Wellington ondersoek twee sake van moord en twee klagte van poging tot moord wat verband hou met ’n skietery wat op 23 Desember verlede jaar in die omgewing van St. Paul- en St. Simonstraat uitgebreek het.

“Met die polisie se aankoms was ’n verdagte aktief besig om op mense in die straat te skiet.

“Die verdagte het versuim om aan die polisie se waarskuwings gehoor te gee, waarna die polisie op hom moes skiet. Die polisie het toe op sy vuurwapen beslag gelê,” het kol. Johan Barkhuizen, bevelvoerder by die Wellington-polisiekantoor, by vorige navraag aan Paarl Post gesê.

Twee mense is in die skietery dood en drie ander is met skietwonde in die hospitaal opgeneem.

Die verdagte, ’n 20-jarige man, is op die dag van die voorval met skietwonde aan onder meer die kop onder polisiebewaking in die Tygerberg-hospitaal opgeneem.

Barkhuizen sê die man het Vrydag (12 Januarie) op twee aanklagte van moord en twee van poging tot moord in die hof verskyn.

Hy word ook aangekla van die onwettige besit en afvuur van ’n vuurwapen.

Inwoners het sedert die skietery hul kommer oor veiligheid in Wellington op sosiale media uitgespreek, en sê hulle leef in vrees.

Hulle het ’n beroep op die polisie gedoen om meer beamptes in Wellington te ontplooi.

Ons groot fokus is natuurlik om die situasie in hierdie brandpunte te stabiliseer. Die honde-eenheid is ingespan om dwelms en onwettige vuurwapens uit te snuffel.

Kol. Johan Barkhuizen, Wellington-polisiewoordvoerder

Barkhuizen het vandeesweek gesê ’n aantal optredes in oorleg met die polisie se eenheid vir openbare orde, die honde-eenheid asook munisipale wetstoepassers en private veiligheids­maatskappye is sedertdien in verskeie gebiede in Wellington uitgevoer.

“Ons groot fokus is natuurlik om die situasie in hierdie brandpunte te stabiliseer. Die honde-eenheid is ingespan om dwelms en onwettige vuurwapens uit te snuffel.”

Hy sê die polisie is vasbeslote dat die onwettige vuurwapens uit ander gebiede “ingevoer” word.

“Vuurwapens was nog nooit ’n probleem in enige gebied in Wellington nie. Die polisie beskou hierdie onlangse skietery as geïsoleerde gevalle en doen al die moontlike om van hierdie vuurwapens ontslae te raak.”

Ruth Arnolds, die raadslid vir Wellington se Wyk 7, het aan Paarl Post gesê ’n memorandum met polisiërings- en wetstoepassingsgriewe is onlangs aan die polisie en munisipaliteit oorhandig.

“Ons kan nie ’n situasie hê waar inwoners in vrees lewe nie. Ek kry daagliks oproepe en boodskappe van inwoners wat hul kommer oor misdaad uitspreek.

“Die werklikheid is dat Wellington eenvoudig nie genoeg polisiebeamptes het nie. Ons sit met ’n situasie waar ons beamptes gebiede so ver as Saron moet bedien. Hulle is oorwerk.

“Dit is om daardie rede dat ek as raadslid met verskeie gemeenskaps- en godsdiensorganisasies hande gevat het om hierdie probleme aan die polisie en die munisipaliteit te opper,” het sy aan Paarl Post gesê.

Sy is ook van mening dat sekere spaza-winkels, wat glo nog tot laatnag oop is, tot die misdaadprobleme bydra.

“Dit is ’n broeines vir misdadigheid. Ons het hier winkels wat tot twee-uur in die oggend oop is. Wat soek enige mens daardie tyd van die oggend by ’n winkel?

“Dit is daar waar mense tot laatnag uithang en moeilikheid dan veral oor naweke ontstaan. Ons doen ’n beroep op die polisie en munisipaliteit om hierdie winkeleienaars wat wetgewing verontagsaam, te vervolg,” sê Arnolds.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article