Wellingtonners kla die afgelope paar weke oor, onder meer, die Wellington-polisie rakende klagtes oor motors wat in die middedorp saans laat geraas maak, asook ander verwante kwessies.
Die grootste kopseer word veroorsaak deur motorbestuurders wat snags in Kerk- en Hoofstraat saamdrom om hul motor se enjin tot in die vroeë oggendure kliphard te laat grom en die wiele te laat tol.
Moedelose inwoners trek hul skouers op en vra hardop: “Waar is die polisie?” Of wonder selfs dat “dit so naby aan die polisiekantoor gebeur . . . vreemd, hulle hoor dit nie.”
“Dit alles gebeur omdat die verkeersbeamptes en die munisipaliteit min omgee om die wet toe te pas en die gemeenskap te beskerm,” lui een so ’n inwoner se kommentaar in dié gesprek op Facebook.
Die polisiekantoor se bevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, is deeglik van die probleem bewus. Hy meen die geraas van voertuie en wedrenne is ongelukkig ’n deurlopende probleem.
“Woensdagaand en -nag was die ergste wat ons nog beleef het, en die eerste keer voor Club 101,” sê hy.
“Dat ons niks gedoen het nie, is nie waar nie. Met die hoeveelheid probleme op die plek deur verskeie wettelose mense kon ons nie ’n impak maak met die aantal beamptes wat aan diens was nie.”
Hy wys daarop dat dit nie alleenlik ’n “polisie-probleem” is nie.
“Verkeersoortredings moet sekerlik deur die verkeersdepartement aangepak word. Die uitdagings is wetteloosheid deur inwoners en studente van gebiede in en om Wellington.”
Vir Barkhuizen blyk die grootste probleem te wees dat mense nie respek vir ander het nie en wetteloos wil lewe.
In ’n ander geval het Susanna du Toit ’n ongeluk Sondagaand (5 Maart) onder die aandag van Paarl Post se aandag gebring.
“Net ná 19:00 het ’n vrou wat skynbaar onder die invloed van drank bestuur het, beheer oor haar Bantam-bakkie verloor en om die draai van Marseillesstraat in Berg-en-dal een van die massiewe plantpotte voor die ingang van Leeuvenrivier-kompleks omgery.”
Sy vertel dat die polisie kort daarna geskakel is en dat die konstabel aan diens geantwoord het dat die polisie met huismolessake besig is.
Die polisie is versoek om dan later te kom, asook om die toerusting om die vrou se bloedalkoholvlak te toets, saam te bring.
“Die antwoord van dié konstabel was dat Wellington-polisie glad nie oor sodanige toerusting beskik nie.
“Die polisieman het dit as ’n feit gestel dat enige sodanige toerusting al lank reeds nié by dié én ander polisiekantore beskikbaar is nie en dat daar ook nie vir die afsienbare toekoms sal wees nie.
“Ons is ook onder die indruk gebring dat dit by meer as net by Wellington-polisiekantoor die geval is. Wat ’n klap in die gesig van wetsgehoorsame burgers,” verwoord die vrou vies.
Barkhuizen sê hy weet van dié voorval.
“Ek dink hierdie is ’n misverstand. Geen polisiekantoor het toerusting wat mense se bloedalkoholvlak vir dronkbestuur op tonele toets nie.
“Blaas-toerusting het die polisie nog nooit gehad nie, en sal in só ’n geval vorentoe altyd ontoereikend wees.”
Hy lê klem daarop dat gevalle van huismoles tot gesinsgeweld bydra, wat by Wellington-polisie as ’n absolute prioriteit geag word.
“As polisiebeamptes op die toneel is van ’n gesinsgeweld-saak kan hulle nie verskoning maak en alles los om ’n klag van ’n beweerde persoon onder die invloed van drank te gaan ondersoek nie.”
Barkhuizen beklemtoon volgens hom is die regte instruksies gevolg “en is die huismoles-klagte ondersoek”.
By vorige navrae het Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapdienste, Gerald Esau, gesê dat verkeersdienste die afgelope maand en ’n half elke naweek van tienuur saans tot vieruur die volgende oggend op onwettige straatrenne fokus.
“Een mens onder die invloed van alkohol is in hegtenis geneem en verskillende boetes is uitgereik – vir ongelisensieerde bestuurders en voertuie en onpadwaardige voertuie.”
Maar, meen Esau, wanneer verkeersbeamptes wel patrolleer, vermy die geraasmakers hulle bloot en hou op raas en jaag terwyl hulle aan diens is.
“Revving is geraasbesoedeling wat deur die polisie of munisipaliteit se wetstoepassers hanteer moet word.”




