“Om in ’n skoon, netjiese en veilige dorp te woon is ’n reg vir elke inwoner van Wellington.”
Só sê die voorsitter van die Wellington Belastingbetalersvereniging (WBV), Eugene Stapelberg, oor sy passie en pligsgetrouheid teenoor die dorp se inwoners. Hy vertel aan Paarl Post dat die WBV, in samewerking met plaaslike sakelui, verskeie pogings aanwend om die dorp se voorkoms te verfraai.
“Ná maande se uitreik-aksies met verskeie gebou-eienaars om die voorkoms van sommige geboue in Wellington op te knap, verloop samewerking in dié verband sover fantasties,” sê Stapelberg.
Die stelling volg ná verskeie geboue in Kerkstraat, Malherbestraat en Hoofstraat die afgelope paar weke, oorgeverf is.
“Sommige geboue in die dorp, soos die Wellington-biblioteek, bly ’n seeroog vir besoekers en toeriste. Hierdie gebou is op ’n roete geleë waar toeriste loop om historiese geboue te besoek.”
Die projek sluit in die verfwerk van talle ander geboue, ondernemings en munisipale eiendomme oor die dorp heen, wat vir die nabye toekoms geoormerk is.
Stapelberg sê ook daar is glo parke wat gedurig deur dromkrappers en mense wat in die openbaar drink, bemors word. Hy voer aan die WBV meld gereeld dié tipe klagtes by wetstoepassing aan om die veiligheid van besoekers by parke te verseker.
“Parke se skoonheid is van kardinale belang. Dis tog hier waar foto’s geneem word en as toonbeeld van Wellington se rustige geaardheid, dien.”
WBV het ook die Drakenstein-munisipaliteit versoek om verskeie gebiede op te knap. “Ons vertrou dat die munisipaliteit aandag hieraan sal skenk.”
Stapelberg sê die WBV en sy vennote oormerk die volgende gebiede vir opknappings:. Die hoek van Piet Retiefstraat en Blouvleiweg (waar die fonteintjie eens was), die ingang na die industriële park en die parkie langs die gholfbaan sal met blombakke versier word.. Die kraghuisie wat in die Spar-parkeergebied geleë is gaan met verf, wat deur Spar geborg is, oorgeverf word.. Die poskantoor se verfwerk sal voortgaan sodra die nodige goedkeuring verkry word.
“WBV bedank deelnemende ondernemings vir hul onbaatsugtige bydraes en betrokkenheid by hierdie projekte.” Indien nóg ondernemings of individue betrokke wil raak, stuur gerus ’n e-pos na wellingtonbbv1@gmail.com.




