’n Uitgebrande motor langs die Hasekraalpad buite Wellington.



Nooddienste en verkeersbeamptes het hul hande vol gehad met talle botsings wat dié week op Bolandse paaie aangemeld is.

Die nat weer, wat Dinsdag in die vallei voorgekom het, het die lewe van minstens drie mense geëis. Dit volg nadat ’n voertuig met vier veiligheidsbeamptes op Slentpad naby die Paardeberg-wynkelder teen ’n vragmotor gebots het. Volgens ’n ooggetuie het een van die veiligheidsbeamptes die ongeluk oorleef en ernstige hoofbeserings opgedoen. Hy is na die Paarl-hospitaal geneem. Die bestuurder van die vragmotor, wat sand vervoer het, het ongedeerd daarvan afgekom.

Die Hugenote-tonnel is Dinsdag op ’n tydstip gesluit nadat vier voertuie teen ’n swaarvoertuig gebots het. ’n Bron op die toneel het gesê wonderbaarlik is geen beserings aangemeld nie.

“Hulle moes die tonnel vir etlike ure sluit omdat die botsingtoneel oor albei bane versprei was.”

Net buite Wellington op die Hasekraalpad het motoriste deur die loop van die naweek verby ’n motorwrak beweeg wat heeltemal uitgebrand het. Navraag is aan die Wellington-polisie gerig, waarna die polisie ondersoek op die toneel ingestel het.

Kol. A. van As, ’n polisiewoordvoerder, sê geen wrak is op die toneel gevind toe beamptes Dinsdag ondersoek ingestel het nie.

“Geen ongeluk is ook by die polisiekantoor aangemeld nie,” het hy bevestig.

’n Botsing tussen ’n motorfiets en ’n motorvoertuig in die Franschhoekpas is oor die naweek aangemeld. Die motorfietsryer is na bewering in die botsing oorlede.

Navraag is aan die Franschhoek-polisie gerig, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.

  • Numerous accident scenes blocked wet roads on Tuesday following rainy weather. At least three people died in one of these accidents.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article