Die 28-jarige Elvino van Rooyen van Klapmuts is die afgelope naweek koelbloedig in sy tuisdorp doodgeskiet.
Volgens sers. Bernadene Arendse, woordvoerder van die Klapmuts-polisie, het die voorval in Koelpark afgespeel terwyl Van Rooyen en ’n paar van sy vriende om ’n vuur gekuier het. Volgens Arendse het die verdagte, ’n 35-jarige man, nader na die groep vriende gestap en op Van Rooyen losgebrand. Die oorledene is drie keer geskiet.
“Tydens die voorval het ’n 15-jarige meisie ook beserings op haar been opgedoen en is hospitaal toe geneem. Die verdagte is op 14 Augustus in hegtenis geneem en het op 16 Augustus in die Paarl-landdroshof verskyn,” sê Arendse.
Dit blyk asof die voorval ’n wraak-misdaad is. Arendse voeg by dat Van Rooyen ten tyde van sy dood in ’n verhouding was met die verdagte se eksmeisie.
’n Moorddossier is aangelê en word ondersoek deur Klapmuts-polisie. Die verdagte is tans in aanhouding by Allandale-korrektiewe dienste.





