“Kyk, dit is te min, maar dan koop die ou darem twee.” Só praat ’n vriend van ’n vriend wat braaihout in slegs 7kg-sakkies verkoop.

Een sakkie kan nie die vleis gaar kry nie.

Aanvullings waarvan ek drie op ’n dag moet drink, kom in ’n boksie van vyf. Toe koop ek maar twee.

Gewoonlik is dit die artikels wat jy nodig het waarvan jy uiteindelik twee moet koop en die “koop twee en kry een gratis” is die minder noodsaaklike, maar lekker om te hê.

Dokter Taban sê as jy iets self gebou het, dink jy twee keer voordat jy dit afbreek. Hier praat ek nie net van die verval in ons pragtige land nie, maar ook oor die onsigbare.

Jy bou jare aan ’n waardestelsel vir jou kinders. Onvermoeid probeer jy arbei aan jou voorbeeld; bou jy snelweë om die pad vir jou kinders gelyk te maak; ondersteun jy hardnekkig – gevraagd en ongevraagd – berei kos waarvan hulle hou, vir spesiale dae voor; oorrompel hulle met jou onvoorwaardelike liefde; veg soos tien wanneer hulle te na gekom word; koop hul gunstelinglekkerny en geniet die verorbering daarvan meer as hulle self as jy aanskou hoe hulle dit geniet en met die trekke van genoegdoening op hul dierbare gesigte. So bou jy, en geen – maar geen – mag gaan jou dwing om dit wat jy opgebou het, af te breek nie.

As elkeen van ons iets in 2022 kan bou, sal die einde van die jaar ’n veelseggende tyd vir almal wees.

Jy hoef nie huise te bou vir al die haweloses nie; jy hoef nie paaie aan te lê of die Parlement alleen oor te bou nie. Jy hoef nie jou besittings te verkoop om die geld aan ’n liefdadigheidsorganisasie te skenk nie; jy hoef nie jou motor as ’n taxi te gebruik om mense by die werk te kry nie; jy hoef nie die hoogste berg, diepste see of verste pad self af te lê en in lendekleed rond te loop om te bou nie. Jy hoef nie jou blomtuin prys te gee vir ’n hidroponika-projek om almal te voed nie. As jy dink jy sou alles kon doen, sal dit goed wees – net goed.

Bou is meer as dit. Dit vereis meer, strek dieper en strewe bowenal na volhoubaarheid. Dit vra volwassenheid van die bouer en vasberadenheid en deursettingsvermoë. As jy dink dis maklik om te bou, wag ’n verrassing op jou. Die materiaal waarmee jy bou, sal ’n hand nooit die voorreg hê om te voel nie, want jy sal met jou karakter moet bou – daardie ego wat jy so goed in stand hou. Dalk sal jy eers ’n bietjie moet afbreek voordat jy waarlik en eerlik kan begin bou.

Begin klein; begin met een ding. As dit ’n vriendskap is wat jy wil bou, maak seker jy is die een wat sy in die middel van die nag kan bel vir hulp, haar nie sal verstoot oor haar optrede of haar keuse veroordeel nie.

Jou verhouding met jou medemens: Wanneer iemand iets van jou vra, moenie sommer dadelik ’n string antwoorde reg hê nie. Sien die mens raak. Dra sy stukkende skoene vir ’n oomblik. Neem dit wat jy dink jy nie het nie (tyd) en gee dit onvoorwaardelik aan die mens voor jou – nie net op straat nie, maar by winkels, in gange, badkamers, bure en ook dié mens wat alleen sit en staar.

Verruim jouself deur meer kennis op te doen van ander kulture. Jy sal onverwagte plesier ervaar, baie hê om te leer en genoeg boublokke moet genereer deur eers af te breek aan jou vooropgestelde idees om die meriete van ander kulture te sien en daarin te belê. Jy sal agterkom dat ons almal se voetafdruk maar dieselfde is.

Wees net altyd konsekwent, en voordat jy afbreek, gaan bereken eers hoeveel van jouself jy daar ingeploeg het. Die Groot Boek sê waar twee mense afgespreek het om die pad saam te stap, is hulle meer toegewyd aan mekaar.

Word die boukontrakteur van 2022 wat inheems welvarend word, wat gunstige toestande raaksien en ontwikkel en die onderstebo mens weer regop help sonder om net ’n toeskouer te bly. Bly restoureer, herstel, opknap en verkwik.

Vat my saam, 2022, dit gaan ’n gunsbetoonde jaar wees! Koop maar twee, dan het jy genoeg.

Ons kan 2021 nie net vergeet nie – nie vir ons wat geliefdes aan die dood afgestaan het nie; dis net te veel gevra van ’n stukkende, gebroke hart. Ek het egter een wens:

Met skemering, toe die vinke by die vlei die lug deurweef het met hul helder geel, het ek net vir ’n oomblik my verbeel jy loop weer deur die riete saam met my.” I.D. du Plessis

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article