Die ANC regering se voornemende water-raskwotas het tot uitgebreide woede gelei.


Kort op die hakke van nuwe raskwotas wat ontwerp is om hele groepe Suid-Afrikaners van werk in sekere sektore en provinsies te weerhou, het die ANC-regering nou ook raskwotas gepubliseer wat die gebruik van water op grond van velkleur sal bepaal.

Die konsepregulasies, wat op 19 Mei deur Senzo Mchunu, minister van waterwese, gepubliseer is, stel raskwotas vir die toekenning van watergebruiks­lisensies in, wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van ondernemings in sektore soos landbou, bosbou en mynbou.

Ingevolge die ANC-regering se nuwe waterkwotas moet aansoekers wat meer as 250 000 m³ gebruik of meer as ’n vasgestelde minimum hoeveelheid water uit strome onttrek, streng raskwotas nakom om toegang tot water te kry – die enkele mees kritieke hulpbron wat nodig is vir lewe, vee, landbou en nywerheid.

Na gelang van die grootte van hul waterbehoefte sal boere of maatskappye wat nie tussen 25% en 75% van sy aandele “toegewys” het aan wat die regulasies “swartes” noem nie, toegang tot water geweier word.

Die gevolge sal veral verwoestend wees vir die boere wat ons almal voed. Altesaam 60% van Suid-Afrika se waterbronne word tans deur die landbou gebruik om voedsel te kweek.

Verskeie politici en gemeenskapsleiers het onlangs gal gebraak oor hierdie beoogde kwotas.

Die leier van die DA, John Steenhuisen, het gesê ingevolge hierdie waterkwotas sal vee gelaat word om van dors te vrek omdat ’n boer die “verkeerde” velkleur het.

“Lande sal braak lê, want diegene wat dit bewerk, is onwenslik. Honderde duisende werkers, van alle agtergronde, sal hul werk verloor namate die uitgedroogde landbou- en mynboubedrywe kwyn en sterf.

“Dit is nou so duidelik soos daglig dat die ANC, onder leiding van Cyril Ramaphosa, rassediskriminasie oor alle sektore van die samelewing herinstel op ’n skaal wat ons nie gesien het sedert 1994 nie. Hulle doen dit om te verdeel en te heers. Die ANC weet hy is op pad om sy meerderheid in 2024 te verloor en hy hoop om raskwotas te gebruik om rasseverdeling aan te blaas vir verkiesingsgewin.

“Hulle gee nie in die minste om oor die gevolge wat dit sal hê vir ’n ekonomie wat reeds verlam word deur ANC-gemanipuleerde beurtkrag, die ineenstorting van ons geldeenheid en groeiende kapitaalvlug nie.

“Suid-Afrikaners moenie toelaat dat hulle slaag nie. Raskwotas sal die doodskoot wees vir ’n ekonomie wat reeds op sy knieë is. Ek herhaal dus my oproep vir ’n samelewing-wye veldtog teen ANC-raskwotas. Ons moet almal beswaar maak teen beide die Wysigingswet op Diensbillikheid se regulasies, sowel as die ANC se voorgestelde waterkwotas.

“Ons sal voortgaan om teenkanting teen hierdie vernietigende regulasies aan te voer. Ons berei reeds voor om die Wysigingswet op Diensbillikheid se kwotas in die hof te betwis.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article