“Kom ons ondersteun Paarlzicht Primêr en sy leerders eerder as om edele pogings en tradisionele maniere van fondsinsameling te kritiseer.” So sê Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, nadat ’n lid van die gemeenskap gekla het oor leerders van dié skool wat met lootjies stap en vir donasies vra.
Die anonieme lid van die gemeenskap het hul kommer in ’n boodskap aan Paarl Post uitgespreek. “Ek wil net weet hoe kan hulle in hierdie tyd toelaat dat kinders van deur tot deur stap met ’n lootjie. Ander skole verkoop kos [en] het stalletjies om geld in te samel. Hoekom kan hulle nie ook so-iets doen nie? Gister was daar vier meisies van ongeveer 9 jaar wat in loverslane woon voor my deur – sonder ouers en sonder maskers. Die lewe is wreed en ons moet ons kinders beskerm. Ek voel as ’n laerskool moet hulle sulke goed in ag neem en nie net dink aan geld nie. Daar’s ander maniere om geld in te samel.”
Hammond het dit duidelik gemaak dat dit die “negatiewe uitkyk” is van een persoon, en nie noodwendig die hele gemeenskap se mening is nie. “Ons ondersteun die skool en sy opregte pogings om die skoolomgewing vir sy gemeenskap en sy leerders beter te maak. Daar is talle skole wat deelneem aan lootjies of donasies van hierdie soort. In plaas daarvan om die pogings van die skool en sy leerders te kritiseer, moet die individu die feit ondersteun dat die skool die omstandighede van die skool, sowel as die gehalte van onderwys wil verbeter.”
Verlede jaar het die skoolgeboue van Paarlzicht verskeie opknappings ondergaan nadat die dakkappe van ’n paar klaskamers op die eerste verdieping en die enkelverdieping-geboue gekraak of gebreek is. Hammond sê die geld wat ingesamel word, sal bydra tot instandhouding asook twee skoolbeheerliggaamposte.
“Terwyl ons kennis neem van die geldige bekommernisse wat deur die gemeenskapslid geopper is oor leerders sonder toesig – die toesig van leerders buite die skool is die verantwoordelikheid van die ouers en nie die skool nie – of hulle nou in die park speel, fondsinsameling of net rondhang, met of sonder maskers, is buite die skool se beheer. ’n Mens kan nie verskil dat jong kinders nie sonder toesig moet wees nie.”
Die pandemie het skole hard getref met funksies wat gekanselleer moes word. Hammond voeg by dit is prysenswaardig dat leerders probeer help om geld vir hul skool in te samel.
“Ek hoop hierdie klagte kan in iets positiefs omskep word en dat die breër gemeenskap kan sien dat die skool geld soek. Gemeenskapsbetrokkenheid en inisiatiewe en ondersteuning vir hul plaaslike skole is uiters belangrik. Eienaarskap van gemeenskapskole hou blywende voordele in.”




