Diep ontstellende beeldmateriaal van skoolkinders wat baklei in beweerde boelie voorvalle doen die rondte op sosiale media. Met die videos wat soos ’n veldbrand versprei op verskeie platforms pleit die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) dat sosiale media gebruikers nie die videos verder moet deel nie.
“Die afgelope week het die WKOD verskeie videos ontvang van leerders wat mekaar glo binne en buite die skool aanval. Baie van die beelde is diep ontstellend,” sê Brent Walters, departementshoof by die WKOD.
“Die WKOD is in gesprek met elk van die skole wat geïdentifiseer kan word. Almal het bevestig dat die nodige dissiplinêre prosesse in elke geval gevolg word, en dat beradingsondersteuning verskaf is.”
Walters meen die videos beeld uit ’n gebrek aan menslikheid en deernis onder leerders. Hy voel die verfilming, verspreiding en hoe die videos verder aanlyn gedeel word is skandelik.
“Dit is moeilik om te begryp wat ’n mens motiveer om ’n medemens aktief te bevorder, veral ’n kind wat verneder of mishandel word? Enige leerder, ouer of versorger van ’n leerder wat deur so ’n mishandeling gegaan het, weet watter diepe pyn en trauma dit kan veroorsaak.”
“Die verspreiding van die slagoffer se ervaring op sosiale media verhoog hierdie risiko’s verder. Ongelukkig het die verspreiding van hierdie videos op sosiale media ’n algemene verskynsel geword. Soveel so dat dit aan die WKOD gerapporteer is dat ’n Whatsapp-kanaal geskep is wat aktief voorvalle plaas waarby leerders mishandel word.”
Walters dui daar op dat die verspreiding van boelie verwante videos “onherstelbare skade aanrig aan die beweerde slagoffers”, en dat dit ook onwettig is ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) om sulke videos.
“Die verfilming en verspreiding van hierdie videos verder, deur beide kinders en volwassenes, dra by tot die afknouery en mishandeling van die betrokke kinders. Terwyl die optrede van die boelie of misbruiker duidelik onaanvaarbaar is, is die optrede van die honderde of duisende mense wat die inhoud deel, aandui dat hulle daarvan hou of kommentaar lewer, eweneens skandelik.”
Walters voeg by die verantwoordelike ding om te doen wanneer jy sulke videos ontvang of sien, is om te keer dat dit verder versprei word. Hy vra mense om sulke plasings af te haal of aan te meld by die betrokke platform.
Vir die rede het die WKOD die #StopTheShare (#StopDieDeel) veldtog om mense verder aan te moedig om nie enige boelie verwante inhoud, veral waarby kinders betrokke is, te deel nie.
“Die WKOD het ’n stel aanlyn videos geskep om leerders en die algemene publiek te wys presies hoe om te #StopTheShare vir hierdie tipe skadelike inhoud.”
Die videos kan hier gekyk word.
Walters beklemtoon dat die onlangse boelie voorvalle ’n herinnering aan ouers en versorgers is dat gesprekke met hul kinders oor afknouery, mishandeling en sosiale media-mishandeling noodsaaklik is.
In tussen het die WKOD kontak gemaak met die inligtingsreguleerder en het ’n klag ingedien teen die WhatsApp-kanaal. Die departement het ook planne om die polisie te betrek.
- Enige leerder, ouer of wat ondersteuning nodig het in hierdie verband kan WKOD se Safe Schools afdeling kontak by 0800 45 46 47.
- Indien leerders of ouers voel hul kinders het onmiddellike ondersteuning nodig kan hulle die Suid-Afrikaanse Depressie en Angs Groep (SADAG) se 24-uur hulplyn kontak by 0800 12 13 14, of die selfdood noodnommer by 0800 567 567.





