Dis dalk winter en hier en daar reën dit, maar Wes-Kapenaars word steeds aangemoedig om minder water te verbruik met die damvlakke wat oor groot dele heelwat laer as ’n jaar gelede is en ondergemiddelde reënval wat verwag word.
Die afgelope week het die gemiddelde watervlak van die provinsie se damme van 63,1% tot 63,5% gestyg teenoor 76,6% in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Ook, sê plaaslike vrugteboere, is die reënval tot dusver vanjaar laer as die gemiddelde reënval vir dié tyd van die jaar. Die hoop is dat Augustus en September nog reën kan bring om damme vir die warm komende somer aan te vul.
Volgens voorspellings word ’n 30%-kans op reën Vrydag verwag met nog reën moontlik Sondag.
Anton Bredell, die LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Maandag gesê ’n betreklik droë begin van die reënseisoen het gelei tot damme se watervlakke wat aansienlik laer as ’n jaar gelede is. “In die afwesigheid van langdurige en wydverspreide reën is ons enigste strategie om minder water te verbruik en toe te laat dat die reën wat ons wel kry die damme sover moontlik hervul.”
Bredell sê in ’n verklaring munisipaliteite moet seker maak lekkasies word tot die absolute minimum beperk, terwyl die waarde van die uitroei van indringerplante in opvanggebiede nie onderskat moet word nie.
Hy sê verder ’n verslag van die provinsiale rampbestuur het aangedui dat ondernormale reënval en buiteseisoenale warm weer in die eerste helfte van die Wes-Kaap se reënseisoen ervaar is. Dit kan tot waterskaarste op plekke lei as die lae reënval deur die winter voortduur.
Verder sê Bredell die weerdiens se voorspellings vir die volgende paar maande dui ook op ’n sterk waar-skynlikheid van voortgesette ondergemiddelde reënval, hoewel sterk kouefronte steeds kan voorkom.
Die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, het ook net effens van 76% tot 76,3% gestyg teenoor 102% ’n jaar gelede.
Die watervlak van ander damme wat water aan Kaapstad en buurdorpe verskaf:
. Voëlvleidam: 63% (64,3%) met 16 mm reën;. Bergrivierdam: 88,3% (87,8%) met 26 mm reën; en. Wemmershoekdam: 64,7% (63,3%) met 30 mm reën.. The public is asked to conserve water as dam levels are not what they ought to be.




