Met die afgelope paar maande se onophoudelike reën, koue temperature, en donker, bewolkte dae, het die winter van 2024 gewis sy stempel afgedruk.
Is vanjaar se winter egter besig om langer te bly as wat hy welkom is?
Hoewel hierdie seisoen die vrugbare grond geskenk het wat noodsaaklik is vir ons wingerde en landboubedrywighede, is daar tog nou ’n diep verlange en begeerte na warmer, sonniger dae.
Deesdae moet ’n mens van elke bietjie son gebruik maak om wasgoed te was en dit buite te hang, of selfs daai vensters te was wat nou al vir maande so asvaal is.
Maande lank was die wynlande gehul in ’n sluier van grysheid, met min sonlig om die gees te lig.
Die reën het die damme en riviere in oorvloed gevul, wat ’n seën is vir die somer wat kom, maar terselfdertyd het dit daaglikse aktiwiteite en buiteluglewe beperk.
Ek weet van ’n hele paar geleenthede wat die afgelope paar maande weens die weer uitgestel of gekanselleer is.
Baie mense het die reën verwelkom, veral ná die droogtes van die afgelope jare, maar nou heers ’n gevoel dat die winter sy kuiertyd oorskry het.
Die langdurige koue het mense binnenshuis gehou en ’n behoefte aan warmte en sonskyn geskep, wat sterk voelbaar is in elke gesprek en klaaglied oor die weer.
Tog is daar lig aan die einde van die donker tonnel. Die lente is om die draai, en daarmee saam die belofte van nuwe lewe, kleurvolle blomme, en (hopelik) warmer dae.
Terwyl ons uitkyk na die komende seisoene, laat ons die lesse van die winter onthou – om die natuur se ritmes te waardeer, om geduldig te wees in moeilike tye, en om dankbaar te wees vir die voorsiening wat hierdie koue maande gebring het.
Nou is dit tyd om uit te sien na die warmte van die lente en die genot van die somer wat in ons pragtige wynlande vir ons voorlê.




