Die middedorp van die Paarl het Maandagmiddag (7 Augustus) in ’n spookdorp verander toe winkels noodgedwonge hul deure moes sluit na nuus ontvang is dat stakers dreig om toe te sak.
Sedert die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) verlede Donderdag (3 Augustus) ’n provinsiale taxi-staking in die Wes-Kaap aangekondig het, het grootskaalse chaos en onrus uitgebreek in dele van die provinsie. Die staking spruit uit taxi-operateurs se ongelukkigheid met die Stad Kaapstad se by-wette en die skut van taxi’s. Die staking word beplan om voort te duur tot Woensdag (9 Augustus).
Hoewel geen skade aangerig is aan ondernemings in die Paarl, is daar besluit om liewer proaktief te wees en die winkels vroegtydig te sluit. Die plaaslike polisie en Drakenstein wetstoepassers is baie sigbaar.
AO Nceba Vanqa, woordvoerder van die Mbekweni-polisie, het bevestig dat beamptes taamlik besig is met patrollies in daardie gebied.
“Ondernemings in altwee sentrums – die een in Mbekweni en die nuwe een in Groenheuwel – moes sluit omdat hulle [die stakers] die sentrums wil binnedring.”
Verskeie skole op die dorp het ook ouers in kennis gestel dat hulle hul kinders vroeër as gewoonlik kan kom optel soos deur die polisie aanbeveel is.
Op Wellington is ’n bakkie van ’n sekerheidsmaatskappy Maandagoggend aan die brand gesteek. Dit is onduidelik of die insident enige verband hou met die taxi-staking.
Intussen het Reagen Allen, die Wes-Kaapse LUR van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, ’n beroep gedoen op inwoners om nie valse nuus en inligting wat nie geverifieer is nie, te versprei nie.
“Stuur asseblief die inligting aan die relevante gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) of buurtwagte sodat die inligting na die polisie gestuur kan word wat dit dan kan verifieer.”
Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, het ook beklemtoon dat daar verskeie valse nuuswenke op sosiale media versprei word in verband met skole wat aan die brand gesteek is deur stakers.
“Daar was geen voorvalle van skole wat afgebrand of geteiken is deur ’n groep wat in die Drakenstein-gebied aangemeld is nie. Daar het ook geen skietvoorval in die Paarl se sentrale sakedistrik plaasgevind nie. Ondernemings het uit eie wil gesluit om enige skade aan eiendom, as ’n proaktiewe maatreël in die Lady Grey-gebied te voorkom nadat ’n groep by ’n plaaslike winkelsentrum gevind is.”
Du Plessis voeg by dat Paarl-polisie en ander polisiestasies in die omgewing die situasie monitor en dat daar geen bedreiging in die Paarl-middedorp is nie.
“Dit word aangeraai dat enige sosiale media inligting met omsigtigheid bekyk word,” sê Du Plessis.
Conrad Poole, Drakenstein se uitvoerende burgemeester, maan ook inwoners om kalm te bly. Hy sê die polisie het aan die munisipaliteit bevestig dat die taxigeweld in Drakenstein tans beperk is tot die Mbekweni gebied, Blignautstraat in Wellington en Groenheuwel in Paarl-Oos. Alle paaie is ook oop vir verkeer.
Poole het ook ’n beroep op inwoners gedoen om hulself te weerhou van geweld, vernietiging van eiendom en voertuie, kapings en enige kriminele aktiwiteite. Hy meen hier tipe gedrag stel mense se lewens in gevaar.
Die Wes-Kaapse LUR van onderwys David Maynier het intussen gesê dat die staking 456 020 leerders en 17 449 personeellede weerhou het om Maandag (7 Augustus) skool by te woon.





