Wingerdwerkers kan die heel eerste keer hul vaardighede aanlyn verskerp danksy die bekendstelling van ’n e-leerplatform vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Winetech-mensontwikkeling, die bedryfsliggaam wat daarmee gemoeid is om die wynbedryf se strategie rakende die ontwikkeling van mense uit te rol, het die aanlyn platform ontwikkel met die doel om aan mense van reg deur die hele wynbedryfwaardeketting topgehalte opleiding in ’n eenvoudige en toeganklike formaat aan te bied.
“Dit was die eerste logiese stap om op plaasvlak te begin, en danksy Vinpro se wingerdwerker-opleidingspakket, wat reeds oor uitstekende leermateriaal, video’s en assesserings beskik, kon ons dit maklik op dié platform integreer,” sê Kachné Ross, die bestuurder van Winetech-mensontwikkeling. “Die platform gaan oor die volgende paar jaar uitgebrei word om ook op wynbereiding, bemarking en verkope, asook logistiek en verspreiding te fokus.”
Vinpro se jaarlikse wingerdwerkeropleiding is alombekend in die wynbedryf, met meer as 5 000 mense wat hul praktiese vaardighede oor die afgelope sewe jaar opgekikker het. Die fisieke opleiding is op ’n DVD-opleidingspakket geskoei, waarvan die 10 modules nou aanlyn beskikbaar gestel word. Dit sluit snoei, wingerdvestiging, stokontwikkeling, lowerbestuur, grondbestuur, identifisering van siektes en plae, besproeiing, bemesting, die oes van wyndruiwe en grondkunde in.
“Mense is die onderbou van ons bedryf, en daarom is dit belangrik dat ons hulle die geleentheid bied om hul kennis en vaardighede deurlopend uit te brei,” sê Conrad Schutte, Vinpro se konsultasiediensbestuurder. “Deur te begryp hoekom en hoe hulle aksies op ’n sekere manier uitvoer, gee aan hulle ’n gevoel van trots en sin vir verantwoordelikheid in hul werk, wat produktiwiteit verhoog. Hierdie nuwe gerieflike aanlyn platform gee leerders die geleentheid om teen hul eie tempo en op tye wat hulle pas, deur die leermateriaal te werk.”
Hoe dit werk
Die e-leerplatform word as ’n eenjaarlisensie aan wynondernemings beskikbaar gestel, en die koste wissel na gelang van die aantal werknemers wat per instansie geregistreer word.
Indien ’n plaas of kelder daarin belangstel om hul span vir die e-leerplatform aan te teken, kan die spanleier of plaasbestuurder e-pos na lms@winetech.co.za stuur. Hierna sal ’n opleidingsverteenwoordiger hulle kontak om die registrasieproses te verduidelik en ’n datum te bepaal waarop ’n fisieke “lei die opleier op”-sessie gehou word – met ’n Vinpro-kundige wat hulle van alle nodige inligting sal voorsien oor hoe die stelsel werk en hoe die spanleiers en spanne saam die opleiding op die mees doeltreffende manier kan benut.
Spanleiers kan hul spanlede op die stelsel laai, waarna elkeen toegang tot die e-leerplatform deur hul slimfoon of rekenaar verkry en die wingerdspanne met hul nuwe opleidingsreis kan begin. Spanleiers dien dus as opleiers wat hul eie wingerdwerkers se leer onder begeleiding van die Vinpro-opleidingspan fasiliteer. Ná die eerste groep werkers se opleiding sal die spanleiers by die SA wynbedryf se professionele liggaam, SAWIPB, as wingerdwerkervoormanne met spesiale status en erkenning geregistreer word.
Buiten die leermateriaal en video’s waardeur spanne saam of op hul eie kan werk, kan individue ook kort toetse oor elke onderafdeling binne ’n module voltooi sodat hulle en hul spanleier tred kan hou met hul vordering. Elkeen wat ’n module suksesvol met ’n assessering van 80% en hoër ontvang, ontvang ’n e-sertifikaat wat hulle kan aflaai en druk of op hul profiel kan hou indien hulle dit later nodig sal hê.. Besoek www.skillogical.com/winetech of kontak Kachné Ross by 021 276 0450 of per e-pos by kross@winetech.co.za vir nog inligting.




