Danie Marais (keldermees­ter) staan saam met sy senior kelder-assistente albei (in rooi pakke), Phazamile Moos en Johnny Fortuin, en die wynma­kers Abraham van Heerden (senior wynmaker) en Michael Kotzé (wynmaker) heel regs.Foto: Heleen Rossouw


Nie een nie, maar drie van die Pinotage-wyne van Windmeul-wynkelder buite Paarl is in die top-10 van die Winemag.co.za Prescient Pinotage & Signature Red Blend Report 2023.

Vanjaar se Pinotage-verslag, geborg deur die multinasionale finansiëledienstemaatskappy Prescient, het 64 inskrywings van 38 produsente gelok, en is blind geproe deur ’n paneel met drie deskundiges, wat volgens die 100-punt-kwaliteitskaal gedoen is.

Die Windmeul 2021 het 95 punte behaal, die Windmeul Reserve 2020 en die Windmeul The Legend Collection 2021 het 94 punte op die 100-punt-kwaliteitskaal behaal.

Maar Windmeul is geen vreemdeling as dit by pryse kom nie.

Hierdie kelder ryg jaarliks behoorlik trofeë en medaljes vir sy puik produkte in, en dikwels val pinotage, wat geken is as ’n moeilike kultivar, onder hul wyne wat bekroon word.

Windmeul Pinotage is sedert 2007 onder Suid-Afrika se top-10-pinotage produsente.

Windmeul was in 2019, 2020 en 2021 medalje- en trofeewenners by die Michaelangelo-prysuitdeling vir sy Pinotage Reserve, Legend Pinotage en Windmeul Pinotage.

Sy 2020 The Legend Pinotage het in 2020 ook geskitter – dié keer met ’n Michaelangelo-dubbelgoud, Veritas-goud en Absa-top-20-pinotage, en in die Tim Atkins-verslag het dit 92 punte gekry asook vier-en-’n-half sterre in die 2022 Platter’s Guide verdien.

Hul Pinotage’s was ook twee keer onder die top-12 van die Paarl Wyn-uitdaging.

Hierdie is maar net ’n paar van Windmeul se toekennings vir sy wyne.

Die Windmeul-keldermeester, Danie Marais, het gesê hy skryf die sukses met pinotage toe aan die feit dat die kultivar in dié streek uitstekend vaar en in die kelder word groot fokus boonop daarop geplaas.

“Die produsente Albert en Deon Kotze van die plaas Otterkuil Boerdery, wat seker as van die beste droëland-wyndruif-produsente in die Suid-Afrikaanse wynbe­dryf gereken kan word, en Wind­meul-kelder se produksiespan streef altyd daarna om hoogs mededingende wyne te maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article