’n Vrou het ’n noue ontkoming gehad toe ’n groot boom in Gimnasiumstraat, Paarl, bo-op haar motor geval het.Foto: Lise Beyers


“Ek het besef dat ek omring moes wees deur engele.”

So sê Mazelle Engelbrecht, ’n onderwyseres by die Laerskool Gimnasium, nadat ’n reusetak van ’n eikeboom haar motor so te sê platgedruk het terwyl sy agter die stuur daarvan gesit het.

Dit het gebeur toe ’n windstorm Donderdag 23 Junie chaos gesaai het in die Drakenstein-streek en ’n spoor van verwoesting gelaat het.

Die skielike storm met buitengewone rukwinde het onder meer tot heelwat skade aan bome gelei.

Mazelle sê sy het die skoolterrein kort ná 13:00 verlaat en vanuit die parkeerterrein by Gimnasiumstraat ingedraai toe sy ’n slag hoor en ’n boom se reusetak haar motor getref het.

“Ek het nie eens die tak hoor breek totdat dit my motor getref het nie. Dit was ’n geweldige skok en ek het eers geen benul gehad wat gebeur het nie en het net begin gil.”

Mazelle vertel voorts dat werknemers van die nabygeleë Nashua haar dadelik te hulp gesnel het en dat die nooddienste blitsvinnig op die toneel was. “My motordak was platgedruk en die ruite is verpletter.”

Die nooddienste het gehelp om Mazelle uit die motor te bevry en sy het byna ongedeerd daaruit gestap, met net ’n paar skrapies aan haar hande weens gebreekte glas, en natuurlik het sy erg aan skok gely.

“Toe ek later na die wrak van my motor by die paneelklopper gaan kyk, het ek eers besef watter noue ontkoming ek gehad het. Die motor word afgeskryf en hoewel dit vir my ’n finansiële verlies beteken, is ek regtigwaar dankbaar dat nie ek of iemand anders hierdeur beseer is nie, of nog erger.

“Baie dankie aan almal wat my so spoedig gehelp en bygestaan het.”

Nog 16 gevalle van groot skade is aangemeld in Paarl, Mbekweni en Wellington.

Vier motors, sowel as heinings en eiendomsgrensmure, is beskadig.

In Dorpstraat, Paarl, is ’n pragtige koorsboom deur die storm vernietig. ’n Buurman het vertel hierdie boom is in 1984 voor die Knopiesfabriek geplant en sy grootte vir daardie spesifieke doringboomspesie was uniek.

En in Jan Phillipsplein het nog ’n boom bo-op die dak van ’n motor beland. Die munisipaliteit het dadelik met skoonmaak-operasies begin wat tot in die vroeë oggendure van die volgende dag voortgeduur het.

. A sudden wind storm which hit the Valley on Thursday caused chaos, with various trees being uptrooted and elec­tricity poles flattened. A woman also escaped injury when a large tree crushed her car outside a school in Paarl.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article