Mense praat deesdae baie oor entrepreneurskap en hoe belangrik dit vir ons ekonomie is.
Selfs skoolleerders wat ek vir loopbaan- en vakkeuses toets, gee soms ’n aanduiding dat hulle graag entrepreneurs wil word.
Maar is entrepreneurskap as sodanig ’n loopbaan?
Die woord “entrepreneur” kom van die Franse woord “entrepren(dre)”, wat letterlik beteken “een wat (een of ander taak) onderneem.” Hoewel baie definisies vir entrepreneurskap die ronde doen, sal ek volstaan met “iemand wat inisiatief aan die dag lê en die een of ander onderneming begin met wins as motief, maar wat ook bereid is om die meegaande risiko’s te aanvaar”.
Ek sal ook wil byvoeg dat ’n entrepreneur iemand is wat nie na ’n werk soek nie, maar vir hulself werk skep.
Maar hoe raak entrepreneurskap loopbaankeuses?
Eerstens moet ’n mens onthou dat entrepreneurskap in baie beroepsvelde voorkom. Die klem lê egter op werk vir jouself, of jy nou ’n motorwerktuigkundige, tandarts, prokureur, sweiser, skoonheidsterapeut, IT-spesialis of wat ook al is.
Bogenoemde voorbeelde dui egter op ’n belangrike aspek van entrepreneurskap, naamlik die feit dat dit op twee bene staan. Aan die een kant word spesialiskennis van die een of ander vakgebied benodig, en aan die ander kant goeie sakekennis.
Iemand wat sy of haar eie onderneming bedryf, benodig ’n ander ingesteldheid as iemand wat vir ’n salaris werk. Een aspek daarvan is dat die werker wat ’n salaris ontvang, uitsien na die einde van die maand, terwyl iemand wat die salarisse moet betaal, vir seker nie altyd na die maandeinde uitsien nie.
Soos met enige ander beroep is dit eerstens belangrik dat ’n mens weet watter soort onderneming jy graag sal wil bedryf. Net soos ’n mens ongelukkig in ’n werk kan wees, kan die verkeerde soort onderneming ook meebring dat ’n mens onsuksesvol daarin sal wees.
’n Boer het eenmaal vir my gesê ’n mens moenie met iets boer waarmee jy dink jy baie geld sal maak nie – boer eerder met iets waarvan jy hou, dan sal dit vir jou geld maak.
Dieselfde geld ’n onderneming.
Kies ’n loopbaan of studierigting volgens dit waarin jy talentvol is en waarvan jy hou. Dáárna kan jy besluit of jy iewers wil gaan werk en of jy eerder vir jouself wil werk.
Ons leef in ’n wêreld waar kennis baie belangrik is, en hoewel ons bykans enigiets kan Google, gaan ek vir seker nie my motor vir herstelwerk neem na iemand wat moet Google om te doen wat hy moet doen nie.
Toe ek ’n kind was, was my ouers se raad dat ek ná skool iets moet gaan studeer sodat ek ’n goeie werk kan kry. Deesdae moedig ek jongmense aan om, indien moontlik, ná skool verder te studeer, maar om ook te besin oor hoe entrepreneursvriendelik hul verworwe kennis sal wees.
Dit is egter nie net leerders wat loopbane of vakke moet kies wat by my aanklop nie. Dikwels is dit mense in hul middeljare wat nie gelukkig is in hul beroep nie.
Ek het onlangs e-pos gekry van ’n man wat een van my artikels gelees het. Hy skryf: “Ek wil graag jou raad inwin insake my loopbaan. Ek is mid-loopbaan en wil kyk of ek op die regte pad is. Dit voel asof ek stagneer. Ek bemark myself sekerlik swak op LinkedIn, en my CV is nie dinamies genoeg nie. Onlangse terugvoer was dat ek ‘interview unfit’ is. Ek verkoop myself swak.”
Baie mense in hul middeljare ervaar soortgelyke en ander loopbaanfrustrasies. Na raming is die gemiddelde ouderdom waarop mense begin om ernstig oor hul loopbane te herbesin en miskien uit hul werk bedank en moontlik selfs ’n eie onderneming begin, 43 jaar.
Ongelukkig het nie al hierdie verhale gelukkige eindes nie.
As ’n mens nie weet vir watter slaggate om uit te kyk nie, raak jy maklik ’n slagoffer van jou eie onsekerheid of van uitbuiters wat jou en jou geld wil misbruik.




