In die Paarl loop die Meulstroom sedert menseheugenis van bo op Paarlberg tot onder by Meulstraat en dan verder aan tot by die Bergrivier. En dan natuurlik see toe.
Inwoners wat al ’n lang leeftyd aan die hange van die Paarlberg woon, in die gebied van die Meulstroom, sê self in tye van droogte het die stroom aanhou loop, soms traag, maar loop het hy altyd geloop totdat hy die Bergrivier bereik het.
En dit is juis oor die aanhoudende loop van die Meulstroom dat die destydse Ou Meul ook hier teen die hange van die berg gebou is.
Van Meulstraat word die water vanuit die stroom met die hulp van ’n ondergrondse pyp na die Bergrivier gelei. Die pyp loop onderdeur erwe van huise in Bo-Lady Greystraat en die vloei van die water kon dikwels gehoor word. Maar sedert vroeër vanjaar is daar nie die geringste gedruis van water nie – al loop die stroom steeds bo by die bergpad af.
Die slotsom, sê inwoners, is dat iemand teen die hange van die berg die water vir eie gewin herlei.
By navraag aan die Drakenstein-munisipaliteit hieroor het Marius Wüst, direkteur van ingenieursdienste, gesê die munisipaliteit beheer nie die watervloei in die Meul-waterstroom nie.
Ingevolge die Nasionale Waterwet is die departement water en sanitasie (DWS) die reguleerder van die water uit enige natuurlike bron.
“DWS is tans in gesprek met die munisipaliteit oor die allokasies van water uit die stroom en die bestuur daarvan.”




