Wie is verantwoordelik vir Drakenstein se gemeenskapsveiligheid?
As lid van die publiek wil ek graag my kommer oor die veiligheid van ons gebied uitspreek.
Dinsdag (16 April) is ek in Kerkstraat Wellington deur ’n straatslaper uit die bloute van agter aan die skouer omgeruk, beskuldig en vieslik gevloek.
Dié straatslaper het my weer eens laat besef hoe weerloos veral die vroue in ons omgewing is. Uit my navorsing is hierdie persoon al ’n geruime tyd besig om Wellington-inwoners (veral vroue) te viktimiseer en hy is nie al een nie!
Hy is na bewering reeds vir sielkundige waarneming in ’n staatsinstansie opgeneem en is telkemale deur privaat sekuriteit uitgevang met gevaarlike wapens soos messe, byle en pangas by hom. So, tesame met sy klaarblyklik onstabiele gemoed is hy definitief ’n loose cannon wat ’n ernstige gevaar vir ons as inwoners inhou. Verskeie sake is al teen hom gemaak, maar hy land telkens weer op straat. Die polisie se hande is klaarblyklik gebind deur die regstelsel wat hom nie help vasvat nie.
Ek het reeds verlede Woensdag e-pos na onder andere die burgemeester, die raadslid vir gemeenskapsveiligheid en wyksraadslid van Wellington-middedorp en die wetstoepassingshoof gestuur.
Al reaksie wat ek ontvang het, was ’n geoutomatiseerde customer care reply. Nie eens ’n oproep of boodskap van die (vroulike) raadslid in wie se wyk die voorval plaasgevind het nie.
Wetstoepassers en die polisie moet dringend hande vat om die publiek veilig te hou.
Drakenstein-munisipaliteit moet daadwerklik wys dat hulle nie net praat oor geslagsgebaseerde geweld nie, maar ook stappe doen om vroue te beskerm.
Ek nooi DM om met my in gesprek te tree en my te ondersteun om te sorg dat ons as gemeenskap ’n klagte indien by die hof teen hierdie gevaarlike straatslapers wat elke keer deur die regstelsel glip en te sorg dat hulle verwyder word.
Wys dat ons as gemeenskap op stadsleiers kan staatmaak om ons veilig te hou. So my vraag bly: Wie se taak is dit om ons as gemeenskap te beskerm of het alle stelsels ons gefaal?
Hedwig Moore
WELLINGTON



