Verlede week het die bespiegeling nog hoog geloop oor wat by die Bergrivier- en Wemmershoekdamme afgespeel het in die aanloop tot die oorstromings gedurende Junie wat die vallei verswelg het. In die nasleep van die ramp was die bestuur van sluise ’n groot fokuspunt.
Die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, Zahid Badroodien, het ter inleiding in sy terugvoer aan Paarl Post beklemtoon die Wemmershoekdam word vir waterberging bedryf “en nie vloedbeheer soos die geval is vir die nabygeleë Bergrivierdam nie”.
“Die [Wemmershoek]dam voorsien drinkwater aan dele van Stellenbosch-munisipaliteit, insluitend plase onmiddellik stroomaf asook groot dele van Drakenstein-munisipaliteit (Paarl en Wellington) en die Stad Kaapstad. Die dam word dus bedryf om waterberging en opbrengs te maksimeer,” illustreer Badroodien.
Die Wemmershoekdam het nie ’n oorloopwal nie, meen hy, maar gebruik wel sluise om water vry te laat sodra die dam volle toevoervlak (100% vol) bereik.
Die dam het tydens afgelope oorstromings, volgens Badroodien, nie oorgeloop nie, aangesien dit onder 100% vol was.
“Die dag voor die geleentheid op 13 Junie was die berging [van die dam] 99,2%. Die dam word bedryf om waterberging te maksimeer. Dit is opmerklik dat die Bergrivierdam en baie ander besproeiingsdamme ook oorgeloop het tydens die 14 Junie- oorstromings wat wye dele van die Wes-Kaap, en nie net die Drakenstein-vallei, ervaar het nie.”
Hy bieg egter dat die omstandighede van die huidige waternetwerk wel ruimte vir verbetering toon.
“Groot gebiede wat in die Bergrivier dreineer, gaan ook nie deur die Wemmershoek- of Bergrivierdam nie en daar kan moontlik terreine wees vir die bou van vloedbeheerdamme.”
Op die vraag of die bestuur by Wemmershoekdam baie van weervoorspellings afhanklik is, antwoord Badroodien dat die werking van Wemmershoekdam nie op langafstandreënvalprojeksies staatmaak nie.
“Wanneer die dam opvul, loop dit oor in die Wemmersrivier soos alle ander damme,” sê hy.
Hy sê voorts die werking van die sluise is geoutomatiseer en slegs een van die drie hekke is tydens hierdie beduidende storms in werking gestel.
“Wateroorlope is eweredig aan invloei van die natuurlike takriviere in die dam bo die 100%- volle vlak. Daar is ook geen gedefinieerde buffervlakke vir wateropgaardamme nie.”
Die Wes-Kaap ervaar tans in ’n sopnat winter.
Plaasdamme is vol, die grond is versadig en riviervlakke loop hoog; word dit in ag geneem wanneer damvlakke aangepas word?
“Die bedryfsreël word nie gedurende die winter aangepas nie. Wanneer meer reën ontvang word, sal die dam oorloop om te verseker dat die grondwal nie oorgehaal word nie.”





