Gevalle van aappokke is tans in ten minste 15 lande aangemeld, insluitend Oostenryk, Franryk, België en Nederland.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê die virus is nie endemies aan baie van die lande nie.

Die meeste van die 92 gevalle wat teen Saterdag deur die WGO aangeteken is, is in Brittanje, Spanje en Portugal aangemeld. Geen sterftes is tot dusver aangeteken nie. Nog 28 moontlike gevalle van aappokke word ondersoek.

Oostenryk het Sondag sy eerste geval van aappokke aangeteken. Die pasiënt het ’n ligte koors en swere in sy gesig gehad.

Aappokke is ’n seldsame virusinfeksie wat gewoonlik met ligte simptome verbind word, en die meeste mense herstel binne ’n paar weke. Dit is ’n virus wat hoofsaaklik van diere na mense oorgedra word, met simptome soos koors, hoofpyn, liggaamspyn, malaise, vergroting van kliere en ’n seer keel.

Dit is die eerste keer in 1958 ontdek en die eerste menslike geval is in 1970 in die Demokratiese Republiek van die Kongo aangeteken.

Pres. Joe Biden van die VSA het die verspreiding van aappokke Maandag as kommerwekkend beskryf. Hy het gesê owerhede werk hard om te bepaal wat gedoen moet word en of ’n entstof bestaan wat daarteen gebruik kan word.

België het Sondag beveel dat pasiënte by wie aappokke gediagnoseer word, vir 21 dae in kwarantyn moet bly. Teen Sondag is vier gevalle al in dié land aangemeld. Al hierdie gevalle was van mense wat onlangs gereis het.

Aappokke kom die algemeenste voor in afgeleë dele van Sentraal- en Wes-Afrika.

Gevalle wat buite dié streke aangemeld word, word dikwels gekoppel aan reis na die gebied. Brittanje het egter oor die naweek die eerste gevalle wat plaaslik versprei het, aangeteken.

Terwyl nog geen gevalle van aappokke in Suid-Afrika aangemeld is nie, het die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) mense gewaarsku om waaksaam te wees.

Bron: WGO

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article