Minstens twee mense het die afgelope week in twee afsonderlike voorvalle in die Bergrivier in die Paarl verdrink.
Dít nadat die Bergrivier nou vir swem en baljaar oopgestel is.
Die eerste voorval het verlede Maandag naby die Paarl-Arboretum plaasgevind.
’n Drawwer, Hennus van Zyl, vertel hy het omstreeks 16:30 in die Arboretum gedraf toe ’n jong vrou, wat baie benoud was, hom om hulp gevra het.
Sy het aan hom gesê haar pa het daar naby gaan swem en onder die water verdwyn.
Hennus het haar te hulp gesnel, in die rivier gespring en na die man begin soek.
Hy kon egter op niks in die water afkom nie en die nooddienste is ontbied. Hulle het ’n uur en ’n half later op die toneel aangekom, waarna die lyk verder in die rivier af gevind is en aan wal gebring is.
Daar was ook chaos die afgelope naweek toe duisende mense op die oewer van die Bergrivier, veral by die Boulevard in die Paarl en Westhovenstraat in Noorder-Paarl, toegesak het.
Ná die naweek van wetteloosheid het vriende en familie op Facebook na enkeles soos Kevin Snyder (22) gesoek wat Sondagmiddag as vermis aangemeld is – dit nadat hy saam met vriende in die Bergrivier gaan swem het.
Volgens ’n polisiewoordvoerder, kapt. Louise du Plessis, is sy lyk Dinsdagoggend deur die Paarl-polisie se duikspan in die Bergrivier opgespoor.
Een van Snyder se vriende, Albertrim Carstens (26), was saam met hom die middag omstreeks 15:00.
“Hy het ’n denim en ook nog ’n sweetpakbroek onder sy denim aangehad met ’n T-hemp.“Ons vra hom toe of hy dit nie eers wil uittrek voor hy gaan swem nie, maar hy het ons laat verstaan hy sal so kan swem.
“Ons het afgekoel verby die brug by die middelste oewer van die rivier waar meeste mense geswem het. Kevin het saam met twee vroue ingegaan, wat toe later hul eie gang gegaan het, en ons besef toe hy is vermis.”
Carstens is gevra hoe hy voel oor die omstredenheid rakende die Bergrivier en mense wat op hul eie risiko in die rivier swem sonder amptelike toesig van wetstoepassers.
“Mense moet liewer daar wegbly. ’n Mens dink dit is net ’n lekker dag waar ’n mens kan saamkuier en afkoel, maar dan raak jou eie mense vermis of verdrink.”
Carstens meen daar was geen reg en orde nie.
“Mense het gedrink, geduik, vuilgemaak en hulself swak gedra. Ek sou verkies dat iemand daar kon wees om ’n oog oor die mense te hou aangesien daar baie mense onder die invloed van drank was.”




