Wetstoepassing is gedurig ’n brandpunt op die sakelys van die Wellington-belastingbetalers-vereniging (WBV), die Wellington- gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) of selfs individuele klagtes op plaaslike Facebook-gemeenskapsgroepe.
Die kwessies behels bewerings van haweloses of “straatslapers” in Wellington, wat gedurig moeilikheid maak, tot die Bergrivier-sage, ontlasting naby sakeondernemings in die strate of net blote wanorde oral.
Gerald Esau, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het die omvang van die munisipaliteit se wetstoepassingsvermoë beraam.
“Die taak van die Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassers is om munisipale verordeninge af te dwing. Daagliks is 22 wetstoepassers aan diens, wat in twee skofte opgedeel is en die volgende gebiede bedien: Saron, Gouda, Hermon, Wellington, Paarl, Mbekweni en Simondium.
“Daarbenewens doen 15 vredesbeamptes daagliks voetpatrollies in die onderskeie gebiede – veral in die sentrale sakekern.”
Hy sê die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling werk saam met ander veiligheidsvennote wat deel is van die Drakenstein Smart Safety Network (DSSN) om verordeninge af te dwing en klagtes te hanteer.
Dié vennote sluit die Suid-Afrikaanse Polisiediens, gemeenskapspolisiëringsforums, buurt- en plaaswagte en private veiligheidsmaatskappye in.
Hy het ook die nuwe deel van hul patrolliedienste genoem in die vorm van hommeltuie, wat deur wetstoepassingsbeamptes gebruik word om sogenaamde hotspots te identifiseer.
Die fokus was pertinent op die skofte van wetstoepassers, aangesien talle klagtes aangemeld is dat die meeste ongerymdhede plaasvind wanneer wetstoepassers al ná diens afgeteken het.
Esau het bevestig dat die wetstoepassingsafdeling se amptelike ure Maandag tot Vrydag van 07:30 tot 22:00 is; Saterdae van 07:00 tot 21:30 en Sondae van 08:00 tot 21:00. Dit sluit openbare vakansiedae in.
“Drakenstein se nuwe munisipale hof, wat pas gepromulgeer is, sal ’n nuwe dimensie aan die toepassing van munisipale verordeninge verleen en ons wetstoepassingsarm versterk,” meen Esau.
Die munisipaliteit moedig belastingbetalers verder aan om klagtes regstreeks by hul wyksraadslede aan te meld.
Dit kan gedoen word deur hierdie kontakbesonderhede te gebruik: http://www.drakenstein.gov.za/about-us/political-leadership/contact-a-councillor.
Die amptelike verteenwoordigers vir Wellington is die wyksraadslede Avron Appollis, Elizabeth Baron, Christephine Kearns en Nical Sauerman.
Die oortredings van verordeninge kan by die DSSN- sentrale beheerkamer by 021 807 8508 aangemeld word.
- The Drakenstein Municipality says law enforcement will improve thanks to new surveillance drone enforcements and the municipal court that’s officially been instated this week.




