Openbare geweld het gistermiddag (Saterdag) in die strate van Rooiland, Paarl-Oos losgebars toe munisipale wetstoepassers wonings in die omgewing afgebreek het.
Video-opnames van die insident het intussen op sosiale media die rondes gedoen. Die beeldmateriaal toon ’n munisipale voertuig wat in die middel van die straat op sy kop staan, sowel as hope mense wat die toneel te midde pandemonium aanskou.
Die stem van ’n vrou op ’n stemgreep wat via WhatsApp versprei is, beskryf die toneel as absoluut chaoties.
“Dit is chaos hierso. Drakenstein se kar word uitmekaar uitgekap. Hulle het [die kar] omgekeer, hulle het die polisie aangerand. Ek weet nie wat hier aangaan nie, die kar het hulle omgedop op sy dak,” is die prentjie wat deur die vrou geskets is.
Kapt. Basil Seekoei, woordvoerder van Paarl-Oos-polisie, bevestig dat ’n ondersoek tot openbare geweld van stapel gestuur is.
“Openbare orde polisiëring (Pops) het gistermiddag ’n saak van openbare geweld geopen. Dit volg na wetstoepassers en ’n munisipale voertuig Saterdagmiddag in Magnolia deur gemeenskapslede aangeval is,” vertel hy.
Seekoei sê Pops was na die toneel ontbied om die opgestoke mense onder beheer te bring.
Daar word beweer dat die gemeenskap gewelddadig gereageer het toe wetstoepassers glo pogings aangewend het om ’n onwettige struktuur af te breek.
In ’n verklaring sê Drakenstein-munisipaliteit hy veroordeel ten sterkste die onwettige en kriminele gedrag waarmee sy wetstoepassingsbeamptes teëgekom is toe hulle gisteraand onwettige strukture by Rooiland in Paarl-Oos toegespreek het.
“Een van die beamptes is beseer en ’n munisipale voertuig is grootliks beskadig toe plaaslike inwoners die beamptes met klippe gegooi en aangeval het,” aldus die verklaring.
“Dit is ironies en onaanvaarbaar aangesien dit plaaslike inwoners was wat die munisipaliteit gebel het om die bou van onwettige strukture te kom staak.”
Drakenstein sê die polisie en wetstoepassers het tesame wel daarin geslaag om drie en ’n half van die ses strukture af te breek voordat hulle gedwing is om die gebied te verlaat.





