Troeteldiereienaars in die Kaapstad-metro word nou verplig om honde en katte wat ouer as ses maande is te laat steriliseer.

Dit is deel van die Kaapstadse munisipale regulasies oor die aanhou van troeteldiere wat verlede jaar gepubliseer is.

Maar hier in Drakenstein is daar geen soortgelyke wetgewing nie, ten spyte van ’n geweldige probleem met rondloperdiere.

Linda Groenewald van Paarl se tak van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het dit beaam.

Sy het gesê die DBV het al menige gesprekke met die munisipaliteit hieroor gevoer, maar hul vertoë val op dowe ore.

Groenewald het gesê die strate van verskeie gebiede van Drakenstein is met rondloper en ongewenste diere besaai.

Organisasies soos die DBV het bloot nie die personeel of geld om dit te polisieer nie, al probeer hulle hul bes.

Sy het gesê as ’n mens in hierdie gebied ry, sien jy byvoorbeeld ’n teefhond loop en soms is dit duidelik dat sy nog borsvoed, maar ook dat sy weer swanger is.

Die probleem ontstaan ook onder katte wat daarvoor bekend is om rond te loop en te raas as hulle nie gesteriliseer is nie.

Groenewald het gesê die situasie van te veel asook rondloperdiere lei tot geweldige onmin onder ontevrede bure. Dus, sê sy, kan dieresterilisasie voordelig wees nie net vir die dier nie, maar vir die gemeenskap ook.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article