Die slaagsyfer in die nasionale seniorsertifikaateksamen vir die klas van 2021 is 76,4%. Dit is ’n 0,2%-styging sedert 2020 se 76,2%-slaagsyfer, het Angie Motshekga, die nasionale minister van onderwys, verlede Donderdag aangekondig.

Die Wes-Kaap het ook goed op provinsiale vlak presteer en staan derde met ’n 81,2%-slaagsyfer. Dit is ’n 1,3%-verbetering in vergelyking met die vorige jaar. Die provinsie het ook die hoogste persentasie nog vir Baccalaureus-toelating in die land behaal met 45,3.

Debbie Schäfer, die LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, is verheug oor die prestasies. Sy sê dit is merkwaardig wat die leerders bereik het, veral omdat hulle die afgelope twee jaar met ’n wêreldwye pandemie moes saamleef.

“Die klas van 2021 het ’n moeilike twee jaar agter die rug. Hul graad 11-jaar in 2020 is deur skoolsluitings onderbreek, en hulle het baie later terug klas toe gegaan as baie ander. Hul matriekjaar was egter meer stabiel, met meer tyd in die klas as in ander matriekjare. Ons skole, distrikte en hoofkantoor het heelwat tyd spandeer en moeite gedoen om hierdie kandidate voor te berei – van die verskaffing van ekstra klasse in die middae en oor naweke tot ekstra hersieningsmateriaal, aanlyn hersieningsondersteuning en ’n magdom ander maatreëls. Die resultate spreek vanself,” voeg Schäfer by.

Op tuisbodem het skole in Drakenstein ook goed gevaar. Die slaagsyfers van die onderskeie skole is as volg: Al Azhar Institute of Paarl (100%); Hoër Meisieskool La Rochelle (100%); Hoër Landbouskool Boland (100%); Hoër Meisieskool Paarl (100%); Hoër Jongenskool Paarl (99,4%); Hoërskool Gimnasium Paarl (98,6%); Labori Hoërskool (96,66%); Hugenote Hoërskool (94,6%); Klein Nederburg Sekondêre Skool (89,3%); Bergrivier Sekondêr (82,7%); Hoërskool Noorder-Paarl (78,5%); Weltevrede Sekondêr (77,5%); Paulus Joubert Sekondêr (76,8%); New Orleans Senior Sekondêr (74,3%); Charleston Hill Sekondêr (67,7%); Wellington Sekondêr (66,7%); Ihlumelo Junior Sekondêr (58%); en Desmond Mpilo Tutu Sekondêr (53,9%).

Gailin Ruiters en Zeta Samuels het Vrydag hul uitslae by Hugenote Hoërskool gaan haal. Volgens die twee was die eksamen en druk van omstandighede uitdagend, maar nou sien hulle uit na die onbekende toekoms.

Nicolas Badenhorst van Hoër Jongenskool Paarl sê sy uitslae kon beter gewees het, maar hy is gelukkig dat hy ten minste geslaag het. Badenhorst sê hy gaan hopelik vanjaar studeer, maar as hy nie by ’n kursus kan inkom nie gaan hy ’n ander plan maak.

Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, het die matrikulante van 2021 vir hul prestasies geprys. Hy is ook bly dat die leerders en almal wat hulle ondersteun het – onderwysers, ouers en administrateurs – deur ’n moeilike jaar gedruk het.

“Julle het ons trots gemaak. Julle het geweier om gebuk te gaan onder die druk wat gepaard gegaan het met ’n ontwrigte skooljaar wat deur Covid-19 meegebring is. Sterkte met jul toekomspogings. Aan dié wat dit nie gemaak het nie – moenie moed verloor nie. Wees dapper genoeg om weer te probeer, en ek is seker sukses sal die beloning vir jou moed wees.”

Intussen het Bridge House in Franschhoek ’n 94%-Baccalaureus-syfer behaal, het Gill Malcolm, ’n woordvoerder van die skool, laat weet.

Dié private skool neem deel aan die onafhanklike eksamenraad van Suid-Afrika se eksamens.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article