Ter ere van Jeugmaand bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ’n gratis interaktiewe werksessie met die bekroonde akteur, vervaardiger en skrywer Basil Appollis oor versetteater aan.
Op Saterdag 24 Junie vanaf 10:00 tot 12:00 sal dié oud-Paarliet die deelnemers nie net ’n oorsig oor die verlede bied nie, maar ook meer oor sy eie ervaringe en wedervaringe vertel. Appollis, wat in Suid-Afrika, Brittanje en Nederland opgelei is, het al onder meer rolle in Who is Dulcie September?, Die gangsters en Buckingham Palace vertolk, en ’n Fiesta-toekenning vir beste musiekblyspel vir sy Plekkie in die son ontvang. Sedert 1984 was hy al betrokke by meer as 200 produksies vir verhoog, televisie, film en musiek, en het hy talle toekennings gewen vir sy baanbrekerswerk, waarvan heelwat in Afrikaans is.
Volgens die direkteur van die ATM, Michael Jonas, wil die instelling met hierdie herdenking van Jeugdag fokus op die ervaring van jong mense in die 1970’s en die rol wat die kunste, spesifiek protesteater, gespeel het om ’n stem aan hulle te gee.
Deelnemers sal ook ’n gratis ete kry. Bespreek jou plek teen 23 Junie op 021 863 0543 of ontvangs@taalmuseum.co.za




