Die situasie wat die afgelope week in Robertson tussen seisoenwerkers van Zimbabwe en Lesotho plaasgevind het, kan nie alleen op landbou se skouers geplaas word nie, maar is ook ’n saak wat deur die departement van arbeid en indiensneming en binnelandse sake dringend aangepak moet word.

Ingevolge wetgewing moet alle buitelandse werknemers oor die nodige wettige dokumentasie beskik en Agri Wes-Kaap vra dat alle werkgewers hulself aan die regte kant van die wet bevind.

“Die aanstelling van onwettige werkers kan nie goedgepraat word nie, maar daar kan nie van landbou verwag word om die polisiëring van onwettige werkers te doen nie, dit is net nie prakties moontlik nie. Die drakoniese wetgewing dra tans ook nie by tot die oplossing van die probleem nie,” meen Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Strydom sê die omvang van die probleem is veel groter as die aanstelling van onwettige werkers, en begin reeds deur onwettige buitelanders wat vrylik deur Suid-Afrika se grense beweeg, en hulself in die land vestig, en dat dié ’n sosiaal-maatskaplike probleem is.

“As ’n organisasie vra ons dat daar leiding gegee moet word aangaande die verifikasie van dokumentasie – praktiese oplossings wat landbouproduksie nie sal onderbreek nie.

“Die landbousektor vra die afgelope twee jaar vir leiding, en daar is steeds geen werkbare oplossing nie.”

Agri Wes-Kaap versoek weer eens dat alle belanghebbendes om ’n tafel sit om dié enorme probleem te pak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article