Twee munisipale werkers was in ’n ernstige toestand die naweek nadat hulle instandhoudingswerk binne ’n pyp in OR Mbekweni, wat deur rommel verstop was, gedoen het.
Hulle is deur metaangas oorval terwyl hulle in die pyp was.
Marius Wüst, die direkteur vir ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het die voorval bevestig en gesê die voorkoms van natuurlike gasse (metaangas) in stormwaterstelsels is abnormaal en het nog nooit tevore in Drakenstein voorgekom nie. Dit is egter ’n gereelde verskynsel in rioolstelsels.
Hy het gesê in hierdie geval het die metaangas weens ’n onverklaarbare rede voorgekom. Een werknemer is deur die metaangas oorval, waarna ’n tweede werknemer ook oorval is in sy poging om sy medewerker te hulp te snel.
Hulle is deur oplettende lede van die publiek van ’n gewisse dood gered toe hulle opgelet het dat die mans in nood verkeer. ’n Reddingswerker wat nie aan diens was nie en van die noodgeval te hore gekom het, is inderhaas na die toneel om hand by te sit.
Die toesighouer op die toneel het met die ondersteuning van inwoners in die onmiddellike omgewing daarin geslaag om die werknemers uit die mangat te haal. Hulle is in ’n ernstige toestand na die hospitaal geneem.
Wüst het gesê die een werknemer het reeds herstel en funksioneer weer normaal, maar word steeds in die hospitaal gehou vir waarneming. Die tweede werker is bestendig en sy toestand verbeter daagliks met ’n huidige positiewe prognose.
Die munisipaliteit ondersoek die voorval om die oorsaak van die probleem te bepaal.
“Afhangende van die bevindinge, sal standaardprosedures moontlik hersien word om enige herhaling van só voorval te voorkom.”




