Talentvolle leerders van Hugenote Hoërskool in Wellington maak reg om die Broadway-musiekblyspel Hairspray volgende week op die planke te bring. Foto: Johann Enslin


Belangstellendes het nog net ’n week oor voordat die gordyn weer gaan lig en 39 talentvolle leerders van Hugenote Hoërskool in Wellington die skool se jaarlikse musiekblyspel opvoer. Vanjaar kom die Broadway-stuk Hairspray aan die beurt en die verwagting is dat dit ’n produksie van hoogstaande gehalte sal wees.

Hairspray is van 2 tot 5 Mei in die skoolsaal te sien.

Die graad 11-leerder Luané Eloff speel Tracy Turnblad, wie se droom dit is om in Corny Collins (gespeel deur Vaughn Else) se plaaslike televisiedansprogram te verskyn. Dit speel in 1962 in Baltimore af – ’n tydperk in die Amerikaanse geskiedenis waar ernstig met kwessies oor segregasie (apartheid) gestoei word. Talle grense en taboes word deur dié medium afgebreek.

Paul Conradie is Tracy se ma, Edna – ’n rol waarvoor baie mense John Travolta in die gelyknamige fliek uit 2007 onthou. Ook onder die hoofspelers is Seaweed (Kadin le Cordeur), Roxi Keyser (Little Inez), Jaimeé Cronje (Velma), Larissa Lombaard (Amber), Retha van der Spuy (Penny), Streicher Cilliers (Wilbur), FC Cilliers (Link Larkin) en Zeké Agullhas (Motormouth). Die rolle van die Dynamites word vertolk deur Jontaye Jones, Chloe Mac Kay en Mishca Africa.

Volgens die vervaardiger, Johann Enslin, wat ook die skool se koor afrig, is dit gewis die mees uitdagende stel wat nog vir ’n produksie by Hugenote gebou is.

Meer as 12 leerders van die skool het regdeur die skoolvakansie aan die stel en dekor gewerk, met die hulp van oudleerders wat voorheen by stelbou betrokke was. Leerders doen ook diens as verhoogbestuurders en agter die skerms met take soos beligting.

“Op hierdie manier leer ons leerders waardevolle vaardighede aan,” vertel Enslin. Hy word bygestaan deur sy mede-onderwysers Leandé van Heerden en Jan Olivier as regisseurs. Die choreografie word deur Nicolene During behartig.

’n Professionele orkes, onder leiding van die musiekonderwyser Marvin Booysen, sal die musiek verskaf. Leerders wat musiek as vak by Hugenote neem, sal deur die professionele musikante touwys gemaak word.

Verlede jaar het die skool Joseph’s Amazing Coloured Dreamcoat met groot sukses opgevoer, en in vorige jare is produksies soos Annie, Sound of Music en Beauty and the Beast ook opgevoer.

Kaartjies is by die skool te koop deur 021 873 2111 of jenslin@hugenoteskool .co.za te kontak.. Een Paarl Post-leser kan twee kaartjies vir Woensdag 3 Mei se vertoning wen. SMS die naam van die skool wat die opvoering aanbied na 066 484 3728 voor Maandag 1 Mei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article