Die 2023 T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue wat Vrydag in Kaapstad begin het, is nou ’n week oud en tel lekker spoed op.
Wedstryde word in Kaapstad, Paarl en Gqeberha gespeel, met die uitklopwedstryde wat in Kaapstad gespeel sal word.
Paarl se Bolandpark het reeds gasheer gespeel vir aksiebelaaide wedstryde, waarvan die jongste Maandagaand gespeel is.
Hier het die Proteas met ’n skitterende boulvertoning teen Nieu-Seeland hul kans om die halfeindronde van dié toernooi te haal, lewendig gehou.
Suid-Afrika het die Kiwi’s met 65 lopies in die spanne se Groep 1-kragmeting oorrompel. Die Proteas het hul eerste wedstryd in die toernooi, Vrydag teen Sri Lanka, verloor.
Inwoners van die Drakenstein-vallei kan weer Sondag op Bolandpark toesak om wêreldklas T-20 krieket te geniet, wanneer Pakistan en die Wes-Indiese Eilande mekaar die stryd aansê. Albei spanne gaan baie honger wees vir ’n wen, aangesien nie een van die spanne al punte kon aanteken nie.
• Vyf Paarl Post-lesers staan elk die kans om ’n dubbelkaartjie na die wedstryd wat om 15:00 begin, te wen. Stuur ’n WhatsApp met jou naam en die naam van die dorp waar Bolandpark geleë is na 066 484 3728. Die kompetisie sluit om 16:00 op Vrydag 17 Februarie. Wenners sal telefonies in kennis gestel word.





