Wêreldboekedag is onlangs gevier met amptenare van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) wat skole besoek het om boeke aan grondslagfase-leerders te oorhandig.
Unesco se wêreldboeke- en kopieregdag word elke jaar op 23 April gevier om die belangrikheid van boeke en skrywers te erken en mense aan te moedig om boeke te lees.
Amptenare van die onderwysdepartement was duidelik in die gees van die feesvieringe en aangetrek in karakterkostuums om die verbeelding van leerders aan te gryp!
Personeel by die hoofkantoor en die ministerie het ook aan die pret deelgeneem deur Vrydag as karakters uit boeke aan te trek.
Die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, het gesê die verbetering van kinders se leesvermoëns is ’n sleutelprioriteit vir die Wes-Kaapse regering, en dit begin deur seker te maak die jongste leerders het toegang tot boeke wat hul leer sal ondersteun.
Die WKOD is tans besig om ’n reuse-intervensie uit te voer om lees vir betekenis te verbeter, wat die verskaffing van nuwe lees-opleidingsmateriaal en bloemlesings vir die grondslagfase van laerskole insluit.
Die belegging van R96 miljoen, wat deel van die Wes-Kaapse leesstrategie-projek is, dek drie tale en sal die hoeveelheid leesstof in skole aansienlik verhoog.
Maynier het ook gesê die verhoging van geletterdheidsvlakke is ’n gesamentlike poging deur die regering, navorsers asook al die inwoners van die provinsie.
“Veral ouers speel ’n belangrike rol om hul kinders se leesvaardighede te verbeter. Ek moedig dus elke ouer – veral dié met jonger kinders – aan om vandag ’n boek saam met hul kind te lees. ’n Liefde vir lees is ’n kosbare geskenk, en hoe vroeër ons leerders hierdie waardevolle vaardigheid ontwikkel, hoe beter!”. Een Paarl Post-leser kan ’n bundel kinderboeke wen: Speurder Kwaaikofski Omnibus 4; Die stoutste klas op aarde word stouter; Wim Vermaak maak ’n plan en Die avontuur van speurhond Willem. Om ’n kans te staan om te wen, stuur die naam van een van die boeke per WhatsApp na 066 484 3728 teen Woensdag 10 Mei. Die wenner moet die boeke by Paarl Post se kantoor by Newstraat 1a, Paarl, kan afhaal.





