Die Wellington-krieketklub het ’n klip in die bos gegooi toe hy beswaar gemaak het oor sportvelde, soos sy tuiste op die Pen Basson-sportterrein, oorbenut word terwyl agtergeblewe geriewe soos die Weltevrede-sportterrein tot niet gevandaliseer is.
Dit ten spyte van private veiligheidsdienste wat onder Drakenstein-munisipaliteit (DM) se tender 24 uur by die Weltevrede-sportterrein waak.
Die bestuur van Wellington-krieketklub het in Februarie griewe gerig dat die bestuur van sportvelde oor die vallei heen te kort skiet en stelselmatig veroorsaak dat funksionele terreine groter aanvraag van buiteklubs ontvang.
Die klub se voorsitter, Warren Groeneveld, is van mening dat DM die Weltevrede-sportterrein in Vanwyksvlei effektief vir sekuriteitsredes gesluit het en opgehou het om enige verdere instandhouding daar te doen.
“Daardie krieketveld en oefennette lê nou onbenut in Vanwyksvlei. Daar is ’n krieketveld, oefennette en dubbelverdieping klubhuis wat verwaarloos staan sonder enige verduideliking.”
Groeneveld meen die gevolg is dat Bergrivier-krieketklub nie meer velde of oefengeriewe beskikbaar het nie.
“Nou is daar ’n versoek om daardie gemeenskapsklub by ons velde te laat oefen en speel terwyl ons fasiliteite nie eens groot genoeg vir onsself is nie. Onthou, ons het slegs een veld oor.”
Drakenstein se direkteur van gemeenskapdienste, Gerald Esau, het by navraag gebieg dat “die Weltevrede-sportterrein se geboue heeltemal gevandaliseer is”.
Hy sê die Weltevrede-sportterrein word nie tans gebruik nie as gevolg van die hoë veiligheidsrisiko.
Die klagtes het sportterreine soos Pelikaanpark, wat lank weens opknappingswerk buite gebruik was, ook betrek.
Pelikaanpark, aan die ander kant, is vir die hele gemeenskap beskikbaar en word gereeld deur rugbyklubs en Wellingtonse skole gebruik. Dié fasiliteit word op ’n first-come-first-served-basis bespreek.
“By die Weltevrede-sportterrein is daar nie spesifieke opknappings gedoen nie, terwyl daar by Pelikaanpark ’n kaartjieskantoor en twee netbalbane gebou, en die velde ook opgeknap is.”
Hoewel Pelikaanpark in ’n goeie toestand is, sê Esau daar was wel inbrake by die kaartjieskantoor waartydens ligte en vensters gesteel is.
“Albei fasiliteite het 24 uur-sekuriteit op die perseel. Pelikaanpark word daagliks in stand gehou, en die gras op die velde van die Weltevrede-sportterrein word periodiek deur die munisipaliteit gesny.”
Die presiese kostes verbonde aan die private beveiliging van dié sportterreine is by navraag nie deur Esau beantwoord nie.
Maar ’n betroubare bron wat in een van Drakenstein se wykskomitees dien, beweer dat DM enigiets tussen R30 000 en R35 000 per maand aan bewaking van 24 uur-skofte aan die betrokke veiligheidsdienste moet opdok.
“Wat help die uitgawes aan beveiliging terwyl terreine soos Weltevrede in elk geval vir skrootmetaal leeg gestroop word en die bestaande sportfasiliteite agteruitgaan?”
Só vra diegene wat by die debat oor gemeenskapsport, asook DM se houding daarteenoor, betrokke is.
Een moontlike antwoord daarop blyk te wees dat die beskikbaarheid van sportvelde oor die algemeen in die Drakenstein-vallei stelselmatig wegkwyn.
Dit is uiteraard die voorland van die Weltevrede-sportterrein, volgens Esau se terugvoer.
“Die munisipaliteit oorweeg tans alternatiewe gebruike vir die Weltevrede-sportterrein,” het hy aan Paarl Post bevestig.
Vrae is daarop gemik om uit te vind of die Weltevrede-sportterrein en Pelikaanpark moontlik in die voorsienbare toekoms spesiale byeenkomste van plaaslike of nuwe sportklubs sal akkommodeer.
Hierop het Esau soos volg gereageer: “Sportklubs en -federasies bied self ontspanningsprojekte aan. Wat betref ander kapitale projekte word daar nie spesifieke projekte buiten die instandhouding van die bestaande fasiliteite vir die nuwe begrotingsjaar beplan nie.”





