Die Wes-Kaapse onderwys­departement (WKOD) het verlede Woensdag met Weltevrede Sekondêr samesprekings gehou nadat ouers en leerders die skool vroeg die vorige dag gesluit het.

Die skool is glo oorvol met sommige leerders wat buite die klaskamers moet sit tydens lesse, en hulle kort nog onderwysers.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, het verlede week aan Paarl Post gesê die departement se data op hul stelsel skets ’n ander scenario en dat daar genoeg klaskamers en onderwysers is.

Pieter Julies, die Wes-Kaapse verteenwoordiger van die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame (NASGB), het ook ’n kwessie gelig rakende die onveilige toestand by die skool omdat dit nie goed omhein is nie.

“Donderdagaand het Joseph Matshau (kringbestuurder) en Nazeem Dalvey (hoofspesialis van onderwys in die Kaapse Wynland-onderwysdistrik) die beheerliggaam bymekaar geroep. Ongelukkig vir hulle was die ouers ook daar en die ouers het aangedring om met hulle te praat. Hulle wou glo glad nie met die ouers praat nie. “Die twee het gevra dat die skool ’n motiveringsbrief aan die departement moet skryf en dan moet hulle [die skool] dit die afgelope Vrydag na Juan Benjamin (direkteur: Kaapse Wynland-onderwysdistrik) in Worcester bring sodat hulle dit kan motiveer. Verbasend is die brief Vrydagoggend geneem en dieselfde middag met die skool se verteen­woordigers se terugkoms, word twee onderwysposte vir die skool oopgestel.”

Julies voel daar moet eers met die WKOD baklei word voordat daar gehoor gegee word aan die bekom­mer­nisse van die skoolgemeenskap.

“Die WKOD dink niks van ons skole in die platteland nie. Ek is baie eerlik. Hulle beantwoord nie eens my as ’n nasionale verteenwoordiger se e-posse nie, wat nog te sê van ’n beheerliggaam.” Julies voeg by dat hulle nie eens by die veiligheidskwessie uitgekom het by Woensdag en Donderdag se vergaderings nie.

Hammond het intussen bevestig dat twee onderwysposte vir die skool geaktiveer is. Bykomende lessenaars en handboeke is ook by die skool afgelewer. “Die kwessies wat geopper is, is dus opgelos en onderrig en leer gaan voort.”.The WCED met with Weltevrede Secondary last Wednesday after parents and learners had closed the school early the previous day.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article