Gustav Piek neem al 10 jaar lank aan die kampioenboerewors-kompetisie deel.Foto:


Die sjef en entrepreneur Tyron Adams het meer as ’n jaar daaraan bestee om die vereistes na te vors en ’n resep met ’n geurkombinasie te ontwikkel wat hom onder die tien finaliste in vanjaar se Shoprite en Checkers- kampioen­skap-boereworskompetisie kan plaas.

“Toe ek in 2021 ingeskryf het, was ek nie goed voorberei met betrekking tot die spesifieke reëls en spesifikasies vir die maak van boerewors nie, maar ek was vasbeslote om weer te probeer en is baie opgewonde dat my harde werk vrugte afgewerp het.

“Om te wen, sal my in staat stel om my onderneming uit te brei en dit een stap nader aan volhoubaar te bring,” het hy gesê.

Vyf inwoners van Wellington het vanjaar resepte ingedien, wat die kundige paneel beoordelaars van die Suid-Afrikaanse sjefvereniging in verskeie rondes genoeg beïndruk het om ’n plek in die eindronde te verdien.

Die IT-bedryfsbestuurder Gustav Piek volg die kompetisie al meer as 10 jaar en het drie keer ingeskryf voordat hy vanjaar se toptien gehaal het.

“Ek maak al meer as ’n dekade lank tuisgemaakte boerewors vir familie en vriende en gebruik hul terugvoer om my resep voortdurend aan te pas en te verbeter.

“Ek voel vanjaar se resep is ’n wenner,” het hy gesê.

Die Wellington-finaliste sal hul boerewors op Saterdag 26 Augustus saam met vyf ander deelnemers van die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal by ’n spesiale geleentheid in Kaapstad voorberei en vir die beoordelaars – Zola Nene, Jeff Schueremans, James Khoza en Carmen Niehaus – gaarmaak.

Die wenner sal op die dag aangewys word en sal ongelooflike pryse huis toe neem – insluitend ’n splinternuwe Toyota Fortuner – en die gesogte titel van 2023-boereworskampioen.

Die wenresep-wors sal ook van 8 September af in Shoprite- en Checkers-winkels landwyd te koop wees.

Die 10 finaliste in geen spesifieke volgorde nie:
. Mshasheni Mabotja van Polokwane, Limpopo. Olivier Kritzinger van Joubertina, Oos-Kaap. Tyron Adams van Wellington, Wes-Kaap. Xavier Blaauw van Wellington, Wes-Kaap. Connie Viljoen van Richardsbaai, KwaZulu-Natal. Roy Erasmus van Newcastle, KwaZulu-Natal. Roland Blaauw van Wellington, Wes-Kaap. Gustav Piek, Wellington, Wes-Kaap. Yvonne Blaauw van Wellington, Wes-Kaap. Eddie Hawkes, Brackenfell, Wes-Kaap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article