Lede van die Wellington Forum, ’n organisasie bestaande uit verteenwoordigers van verskeie inwoner-organisasies, het Maandag op ’n spesiale vergadering ’n finale streep in die sand getrek.
Die vergadering het besluit Wellington se inwoners is moeg vir leeglêers wat snags op stoepe in die middedorp lê en slaap, hulle is moeg vir smokkelbase en ander gure karakters wat openlik in die middedorp hul twyfelagtige transaksies beklink, die stygende misdaadvlakke in Wellington wat nóú gekeer gaan word . . .
By die vergadering is besluit Wellington se inwoners gaan onmiddellik begin om hul dorp in ’n florerende plattelandse dorp met ’n splinternuwe toerisme-potensiaal omskep.
Daar is ook besluit dat munisipale amptenare, die polisie en sekerheids- maatskappye sal voortaan deeglik gemonitor word om seker te maak dat versoeke om die dorp te beveilig noukeurig uitgevoer word. Wellington se inwoners sal ook opgeskerp word om self hand aan die ploeg te slaan en wetstoepassers met hul taak by te staan.
“Ons kla nou al ses jaar lank oor die toestand in die middedorp,” het ’n verontwaardige lid van die Forum op die vergadering gesê. “Ons ken al elke verskoning waaragter die amptenary skuil oor waarom daar nie nougeset aandag aan ons geldige klagtes gegee word nie. Teen die snelheid waarteen die aantal sluipslapers en ander ongure karakters in die middedorp toeneem is dit nie vergesog om te sê ons mooi dorp is besig om in te plof en in ’n krotbuurt te verander nie.”
Daar is ook uitgevaar teen voorbeelde aan gebrekkige voorafbeplanning om groot byeenkomste deeglik te bestuur. As voorbeeld is genoem die chaos wat by onlangse rugbywedstryde by Boland-stadion geheers het. Daar is uitgevaar teen toeskouers wat onbeskaamd op sypaadjies staan en drink en tamaai braaivleisvure aangesteek het teen die verkeersknope in en die rumoer in die strate van omliggende woonbuurte.
Een van die Forum-verteenwoordigers het die vergadering meegedeel dat hy die sluipslapers rondom Victoria Park en in Rosestraat al lankal dophou. Volgens hom is dit duidelik dat die werkloses wat daar slaap feitlik deur die bank dwelmverslaafdes is wat deur die dwelmbase gebruik word om dwelms in die middedorp te verkoop. Hulle word uiteindelik nie met geld nie, maar met hul eie voorraad dwelms vir hul dienste vergoed.
Die vergadering is bygewoon deur verskeie stadsraadslede wat die besluite wat op die vergadering geneem is, heelhartig ondersteun het.
Aan die positiewe kant, het die vergadering kennis geneem van die feit dat Wellington se middedorp met die hulp van werkers wat deur diensorganisasies gewerf is, ondanks die hope rommel wat naweke in die dorp versprei word, gereeld deeglik skoon gehou word.
Die vergadering beskou ook die Fees van die Liggies wat op die 26 November in Wellington se strate gehou gaan word, as ’n goeie voorbeeld van hoe so ’n samedromming van baie mense in die dorp se strate gereël behoort te word. Baie moeite word op die oomblik deur verskeie rolspelers gedoen om te verseker dat hierdie fees ’n aangename ervaring vir elke inwoner van die dorp sal wees.
* Various residents of Wellington spoke out against the deteriorating state of the town as well as escalating crime during a Wellington Forum meeting on Monday evening.





