John Chibanda, die bekende straatkunstenaar van Wellington, is weer hard aan die werk by sy stalletjie agter Spar op Wellington nadat ’n groepie inwoners van Wellington hom en sy gesin op wonderbaarlike wyse bygestaan het nadat hulle al hul besittings in ’n reeks rampe verloor het. Foto: Johan Nel


John Chibanda, bekende straatkunstenaar van Wellington, sê die onbaatsugtige ondersteuning wat hy van ’n groepie Wellingtonners ontvang het, het gemaak dat hy en sy gesin die afgelope paar weke uit ’n diep gat van teenslae kon kom.

Volgens Chibanda het sy probleme begin toe sy huisie in Mbkweni laat verlede jaar in ’n tamaai brand verwoes is.

’n Wellingtonse egpaar het feitlik onmiddellik aangebied dat Chibanda, sy vrou en kinders tydelik in die egpaar se woning in Malherbestraat kan kom intrek, want die egpaar het op die punt gestaan om vir ’n tyd lank in die buiteland by hul kinders te kuier en hul huis sou in die tyd leeg staan.

Wellington se mense het Chibanda ook gehelp om ’n oop erf in Mbkweni aan te skaf om vir hom en sy gesin weer ’n huis daar op te rig. Hy en sy gesin kon vroeg vanjaar reeds hul intrek in die nuwe woning neem.

Hul vreugde was egter van korte duur, want hulle was skaars in die nuwe woning toe Chibanda helder oordag op straat in Mbkweni oorval is. Hy is met ’n mes in die been gesteek en van sy fiets, waarmee hy elke dag na sy stalletjie agter Spar gery het, beroof.

Kort nadat die nuus oor die nuwe terugslag wat die Chibanda-gesin getref het rugbaar geraak het, het ’n Wellingtonner aan John ’n fiets kom skenk. Hy het dadelik aan die werk gespring om nuwe produkte vir sy stalletjie te maak en binne enkele dae het hy weer begin sake doen.

Die produkte wat Chibanda by sy stalletjie verkoop, is kunswerke wat hy uit draad en kleurvolle glaskrale skep. Hy skep besonderse kunswerke en is selfs enkele maande gelede genooi om aan ’n groepuitstalling van bekende kunstenaars in die Breytenbach-galery deel te neem.

“Ek is diep dankbaar dat ek my stalletjie van alle plekke op Wellington kan bedryf. Die manier waarop Wellington se mense my en my gesin in hierdie donker tyd in ons lewe bygestaan het, vervul ons met verwondering en groot dankbaarheid,” sê Chibanda.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article