’n Bekende inwoner van Wellington het verlede week ’n smakie van die vermaaklikheidswêreld gehad toe sy ’n plek losgeslaan het in die gewilde televisie-vasvraprogram Wie word ’n Miljoenêr.
Engela Duvenage is ’n vryskut-joernalis en skrywer van die kinderboeke “Uitvinders, Planmakers en ander Slimkoppe van Suid-Afrika” en “Inventors, bright minds and other science heroes of South Africa”.
As aanhanger van die program en met ’n goeie algemene kennis het Engela besluit om vir hierdie senutergende program in te skryf.
“Ek glo nogal aan die uitdrukking you only live once en dat die lewe net so interessant is soos wat jy dit toelaat om te wees. Ook, ek het einde verlede jaar 50 jaar oud geword, wat my dalk meer waagmoedig maak.”
Sy vertel dat sy vroeër vanjaar ’n advertensie in ’n dagblad gesien het waarin mense genooi is om vir Wie word ’n Miljoenêr in te skryf.
“Eers moes ek ’n reeks veelkeuse-vrae op die Kyknet-webblad invul. Daarna het ’n lid van die produksiespan gebel om te sê ek het redelik goed gevaar. Ek moes toe via Zoom ’n onderhoud doen, en weer eens ’n reeks algemene- kennis-vrae beantwoord – maar hierdie keer sonder die luukse van veelkeuse-antwoorde as leidrade of wenke.
“Daarna het hulle laat weet dat ek gekeur is, en kon die proses van vliegtuigsitplek bespreek en kies wie ek na die ateljee saamneem, begin. Vliegtuigkaartjies en hotelverblyf is deur die program betaal.”
Engela vertel verder dit was ’n wonderlike ervaring om deel te neem.
Sy sê eerstens die hele produksiespan was besonders en het baie mooi na die deelnemers omgesien.
Hulle het ook duimvasgehou dat ’n deelnemer groot sal wen.
“Een van die moeilikste dele van die hele speletjie is glo om deur die Vinnige Vingers-ronde te kom waarin deelnemers teen mekaar speel om so vinnig as moontlik vier antwoorde in volgorde te plaas. “Een van die ander deelnemers in my ronde het al drie keer sonder sukses aan Suid-Afrikaanse weergawes van die program deelgeneem, sonder om een keer te kon deurdring tot by die Warm Stoel. Vir ’n ander deelnemer, Hein, wat ná my op die program te sien is, was dit sy tweede poging.
“Ek ag myself dus gelukkig om die volle ervaring te kon geniet. Uit die ses deelnemers wat in Episode 1 van die nuwe reeks (reeks 4) was, het drie huis toe gegaan sonder om kans te kry om vrae te beantwoord. Die volgende episode het begin met ’n nuwe stel deelnemers. En so werk dit elke keer.
“Die hele ervaring was ’n groot lekkerte – ’n blitsige 36 ure van Wellington Johannesburg toe en terug. My jare lange vriendin Ilze-Mere Rossouw, ook van Wellington, het saamgegaan om my in die ateljee te ondersteun, en vir ’n beter metgesel kon ek nie vra nie!
“Dit was vir ons soos ’n mini-vakansie – met baie adrenalien – en die kans om agter die skerms te loer na hoe ’n televisieprogram gemaak word.”





