Die bekende Wellingtonse veearts, dr. Albertyn van Rooyen, het onlangs ná bykans 40 jaar as veearts op die dorp besluit om af te tree.
“Ek het wel as vennoot by die Wellingtonse Dierehospitaal afgetree maar my oudkollegas weet hoe geheg ek aan my beroep is en hulle span my nog steeds op ’n gereelde basis in as iemand dringend iewers heen moet gaan,” het dr. Van Rooyen die afgelope week gesê.
Volgens hom het hy baie jare gelede besluit om veearts op Wellington te word omdat die dorp indertyd een van die min groterige plattelandse dorpe was wat naby die stad en naby die see geleë is.
“Wellington het oor die jare gegroei. Dit is wel nog steeds ’n plattelandse dorp naby die stad en die see maar die dae is verby toe jy enige sakeonderneming op die dorp kon besoek sonder om jou oor parkeerplek te bekommer. Die strate is voller, parkeerruimte is minder maar ek en my gesin verkies nog steeds Wellington as woonplek bo enige ander plek in die land.”
Dr. Van Rooyen sê die praktyk, waarvan hy meer as 35 jaar gelede deel geword het, was indertyd ’n tipiese plattelandse praktyk. ’n Veearts se werk het in daardie dae gewissel van ’n bees wat gehelp moet word omdat sy nie kan kalf nie tot ’n marmotjie wie se hare besig was om uit te val. In die tyd het die Wellingtonse Dierehospitaal gegroei vanaf ’n praktyk waar drie veeartse gewerk het tot ’n plek waar daar vandag 12 veeartse, vyf verpleegsusters en ’n fisioterapeut werksaam is. Die hospitaal bestaan ook vandag uit twee takke – een in Wellington en een in die Paarl.
“Toe ek in 1979 hier as veearts begin werk het, het ons veeartse se taak hoofsaaklik daaruit bestaan dat ons siek diere gesond moes dokter. Vandag val die klem hoofsaaklik op die voorkoming van siektes by diere en op die verbetering van veekuddes. Die boere bestuur ook hul kuddes heeltemal anders as in die ou dae en daar is ’n baie meer positiewe band tussen die boer en sy veearts as in die verlede. Ons help byvoorbeeld die boere om hul veetroppe se lampersentasies dramaties hoër te kry en om meer winsgewend te boer as in die verlede.
“’n Groot deel van ons dagtaak bestaan nog steeds daaruit om na die dorp se huisdiere om te sien. Ook daar glo ek het daar groot veranderinge plaasgevind. As veeartse is ons deesdae baie meer op puik dienslewering ingestel. Ons wil hê dat jou troeteldier na ’n besoek aan die praktyk ’n gesonder dier moet wees en ons wil ook hê dat jy as eienaar van die dier tevrede moet wees met die diens wat ons gelewer het.”





