Ses vragskiphouers met leefbare aanpassings is aan G-Voucher besorg soos beloof deur Drakenstein-munisipaliteit. Die tydelike skuilings sal oor elektrisiteit en riooldienste beskik.


Wellington sal binnekort met sy eie nagskuiling spog as ’n heenkome vir plaaslike haweloses wat tydelike huisvesting benodig.

Dié projek kom al jare aan ná ’n lang gespook, insette en beplanning om die kwessie van haweloses te hanteer, met die hoop om Wellington ’n trotse toeristebestemming te maak.

Die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, sê hulle is trots op die mylpaal wat bereik is en dat die nagskuiling nou ’n werklikheid geword het vir die haweloses.

“Ons is nou in die pylvak waar die riool- en elektrisiteitsaansluiting binne die volgende drie weke voltooi sal wees. Dan sal die geriewe gereed wees vir huisvesting. Die munisipaliteit werk ook nou saam met verskeie nie-regeringsorga­nisasies, soos G-Voucher, wat die gerief vir die munisipaliteit wil bestuur.”

Clifford Asia van G-Voucher is in sy hart oortuig dat 2022 vir almal ’n goeie jaar sal wees.

“Die munisipaliteit se beloftes is nagekom danksy die ses vragskiphouers wat geskenk is nadat ’n sementblad Desember verlede jaar op G-Voucher se perseel gelê is.

“Die kontrakteurs is tans besig om die toilette en wateraansluitings te laat installeer. Ons wag nog net vir die aanlê van elektrisiteit en ander dienste.”

Asia se hoop is dat al die nodige werk binne die eerste week van Februarie afgehandel sal word.

“Ek is kinderlik opgewonde oor die finalisering van dié projek sodat ons kan begin met ander projekte wat deur G-Voucher verder gedryf sal word. Dinge lyk positief en goed vir ons en ons sien uit na wanneer ons die eerste mense hier kan huisves.”

  • G-Voucher, together with the Drakenstein Municipality, is proud to announce that the Wellington Night Shelter Project is nearing completion. This will be temporary overnight accommodation for the homeless in Wellington.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article