As jy die soort laatslaper is wat eers ná 08:00 die strate van Wellington invaar, mis jy uit!
Nie dat ek juis elke dag ’n early riser is nie, maar wanneer ek wel só ’n oggend vroeg op die been is terwyl die doudruppels nog op die gras blink, is Kerkstraat ’n plesier om deur te wandel voor ek moet werk toe.
’n Mens kry mos net daai dae wat jou oë klokslag 05:00 oopslaan en jy net eenvoudig nie meer kan snooze nie. Dan moet ’n mens net eenvoudig tel tot by vyf, opstaan en jou tekkies aantrek.
Doen jouself ’n guns en neem ’n bietjie loose change om jouself met ’n koffie by Perfect Place te bederf.
Daar is ’n spul mense wat al op-en-wakker is en sommer sosiaal verkeer om hul dag op ’n vrolike noot te begin.
Die geur van geroosterde bone hang in die lug, ’n vars briesie wat die blomme se geure dra en ’n lekker geselsie met ’n vriendelike barista, Ashton, wat vir jou vra hoe jou agenda vir die dag lyk.
Komaan! Wees wakker en woeker jouself vroeg deur die straatjies van Wellington.




