Johan Williams (53) van Wellington het verlede week weer in die Kaapse hooggeregshof op veelvuldige aanklagte van verkragting, moord en ontvoering verskyn.

Die staat voer aan dat Williams sy slagoffers – Chantell Matthysen, Natalie Jonkers en Maria Isaacs – in 2018 verkrag en vermoor het nadat hy hulle met beloftes vir werk gelok en voorgegee het dat hy ’n ryk sakeman is.

Hy het die lyke op ’n plaas buite Wellington begrawe.

Williams het na bewering vir jare ’n skrikbewind gevoer, maar kon nooit vasgetrek word nie – totdat hy deur ’n ooggetuie uitgeken is, wat hom saam met Chantell Matthysen van Kuilsrivier gesien het.

Toe Matthysen spoorloos verdwyn het, is ’n grootskaalse soektog na haar begin en die polisie het alle leidrade opgevolg.

Die spoor het na Williams gelei en hy is in Desember 2019 in hegtenis geneem.

Williams het tydens die ondersoek uitwysings aan die ondersoekbeampte gedoen na die plekke waar die lyke van die slagoffers begrawe is.

Polisiebeamptes wat hiertydens teenwoordig was, het gesê Williams het “baie trots” daaroor voorgekom toe hy die uitwysings gedoen het “asof dit ’n trofee was”.

’n Pleitooreenkoms is eers met die staat vir 40 jaar gevangenisstraf vir Williams bereik, maar dit is later teruggetrek.

Die verhoor is tot 9 Oktober uitgestel.

. Die verdagte in die opspraakwekkende moord op ’n jong vrou in Mbekweni het ook verlede week in die Paarl-streekhof verskyn.

Hierdie moord in Mbekweni word as die wreedste denkbare moord beskryf.

Sithobe Obbe (31) staan tereg op ’n aanklag van moord op sy gewese meisie, Siphokazi Booi (27).

Die erg verminkte liggaam van Booi is verlede jaar in ’n drom in Mbekweni gevind.

Haar arms en bene was afgesny.

Booi het haar verhouding met die verdagte enkele maande voor die voorval verbreek. Hy het haar hierna glo erg aangerand en is deur die polisie in hegtenis geneem, maar is op borgtog van R200 vrygelaat.

Obbe was steeds op borgtog toe die moord op Booi plaasgevind het.

Hy is op heterdaad deur die gemeenskap betrap, aan die polisie oorhandig en in hegtenis geneem.

Hy het verskeie kere in die Paarl-landdroshof verskyn, waarna die saak na die Paarl-streekhof oorgeplaas is.

Die gemeenskapsaktivis Ian Cameron van Action Society staan Booi se familie tydens die hofsaak by.

Die moordverhoor is tot 30 Augustus uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article