’n Bejaarde egpaar se huis in Bergstraat in Wellington het die afgelope Donderdagoggend (29 Augustus) aan die brand geraak toe ’n kortsluiting, vermoedelik in die hoofslaapkamer, ontstaan het.
Volgens Francois Kellerman (76) het hy kort ná 08:00 agtergekom die kragtoevoer is onderbreek toe hy ’n harde “knal” vanuit sy motorhuis in die rigting van die hoofslaapkamer gehoor het.
Toe hy opkyk, het hy vlamme by die hoofslaapkamer se venster sien uitkom.
Volgens hom was sy eerste gedagte “het my vrou seergekry”, waarna hy haar gaan soek het, en in die televisiekamer gevind het nadat sy uit die hoofslaapkamer kon ontsnap.
Francois het verduidelik dat sy vrou sukkel om te loop en dat haar rolstoel ook in die brand skade opgedoen het.
Met Paarl Post se besoek aan die huis op die oggend van 30 Augustus was die brandskade opvallend.
Die reuk van rook het nog dik in die huis gehang, en bure het kort-kort ingeloer om ’n helpende hand aan te bied.
Die Kellerman-gesin het vir 50 jaar in hul huis gebly, waar hulle hul kinders én kleinkinders grootgemaak het, en hul aftrede geniet het.
Volgens Francois is hy “bly” dat niemand seergekry het nie, maar is effe mismoedig dat sy huis en besittings in die slag gebly het.
“Die hele huis sal opgeknap moet word,” het Francois gesê.
“Volgens die forensiese ondersoek van die versekering het die kortsluiting ontstaan in die veeldoelige prop in die hoofslaapkamer,” volgens Francois.
Hy het verduidelik dat sy vrou soos oudergewoonte haar selfoonlaaier by die prop langs haar kant van die bed ingedruk het, wat toe die kortsluiting veroorsaak het.
Met “die vuur het toe opgegaan”, het Francois verwys na die plafon en die dak.
Die plafon het inmekaar gesak en die vlamme gelei na onder meer die televisiekamer, ingangsportaal en ’n gedeelte van die kombuis waar die meeste van die meubels en ander toestelle uitgebrand het.
“My vrou se been het bietjie gebrand met ’n klein blaas, maar daar is geen wesenlike skade nie,” het Francois verder gesê.
Die res van die huisgesin, wat Francois asook twee honde insluit, het geen beserings opgedoen nie.
Francois se vrou het intussen tydelik by ’n ouetehuis in die omgewing gaan bly, waarna die egpaar se twee honde ook na die Wellington-dierebeskermingsvereniging geneem is vir ’n paar dae.
“Die gemeenskap wil almal help, en mense het dadelik blyplek aangebied vir ons [Kellerman-egpaar].”
Dit is tans onduidelik hoe lank die versekering sal neem om geld uit te betaal sodat restourasiewerk aan die huis kan begin.
Francois het tot sy aftrede vir die Rembrandt-tabak en -nywerheidsgroep as ’n materiaalbestuurder gewerk, en het grootgeword in die Swartland-distrik.
Nadat hy sy vrou ontmoet het, en hulle getrou het, het hy na Wellington verhuis.
Eda Barnard, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, het die brand bevestig en gesê dit is teen omstreeks 09:30 deur die munisipale brandweerdienste geblus.





